Nuus 09:00
BULLETIN 5 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA doen ‘n beroep op die regering om ‘n aardgaskrisis te voorkom
# AfriForum dreig om Rand Water te dagvaar
# En, die Amerikaanse Hooggeregshof beslis dat Trump nie van die presidensiële stembrief verwyder kan word nie
# Business Leadership South Africa sê traagheid met beleidsoptrede en die regering se onvermoë om hom tot grootskaalse beleggings te verbind, sal lei tot ‘n groot slag vir energiebeskikbaarheid. Sasol gaan van 2026 ophou om aardgas van Mosambiek te verskaf, want hy gaan die oorblywende gas daar inspan om steenkool te vervang. Die sakeorganisasie se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, sê 70-duisend werksgeleenthede in gasverwante nywerhede en hulle jaarlikse bydrae van 500-miljard-rand tot die ekonomie is in gevaar, want die regering het nog nie alternatiewe gevind vir die aardgas-afgrond van die middel van 2026 af nie.
# Die Mededingingskommissie skop die maand-lange openbare verhore af van die Media en Digitale Platforms-markondersoek. Met die hoofekonoom James Hodge as voorsitter en Paula Fray as paneellid, sal die verhore meer as 40 belanghebbers hê van verskeie sektore wat hulle sienings sal deel. Die verhore sal na verwagting op 25 Maart eindig en is gemik op ‘n ondersoek na die verspreiding van media-inhoud op digitale platforms en die Adtech-markte, wat direkte gesprekke moontlik maak tussen die ondersoekpaneel en belanghebbers.
# AfriForum dreig Rand Water met regstappe oor sy besluit om die watertoevoer na verskeie wanbetalende munisipaliteite te verminder in ‘n poging om hulle agterstallige skuld te verhaal. Die plaaslike owerhede wat geraak word, sluit in Emfuleni, Sedibeng, en die Wes Rand. Net Gautengse munisipaliteite alleen skuld die water nutsmaatskappy twee-miljard-rand. Petrus Coetzee van AfriForum, sê sy regspan het ‘n dringende brief aan Rand Water gerig om die wanpraktyk te stop en toe te sien dat die gemeenskappe die nodige water ontvang:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het sommige state se pogings om te keer dat Donald Trump vir president staan, in die wiele gery. Die hooggeregshof in Colorado het in Desember beslis Trump is onbevoeg vir die presidentskap weens sy optrede in verband met die sogenaamde aanval op die kongresgebou op ses Januarie 2021. Hy is ook in Maine en Illinois van die stembrief verwyder. Colorado se Demokratiese minister van buitelandse sake, Jena Griswold, sê sy is teleurgesteld in die uitspraak omdat elke staat volgens haar die reg moet hê om oproermakers wat die eed verbreek van die stembrief te haal.
# Sokker: Arsenal het Sheffield United met ses-nul op Bramall Lane verslaan en so ‘n rekordgetal van sewe agtereenvolgende wedstryde in die Premierliga ingepalm. Die Gunners was teen rustyd met vyf-nul voor met doele deur die kaptein Martin Odegaard, Jadyen Bogle se eie doel, Gabriel Martinelli, Kai Havertz en Declan Rice. In die tweede helfte het Ben White die sesde doel aangeteken. Die oorwinning het Arsenal tot twee punte agter die voorlopers, Liverpool opgeskuif. Odegaard sê hulle is opgewonde om in die wedloop vir die Premierliga-titel te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-288-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-115-rand-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….