Nuus 09:00
BULLETIN 4 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-topbestuur vergader om die party se verkiesingslyste te finaliseer
# Vandag is die laaste dag om beswaar te maak teen die voorlopige kieserslys
# En, Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste oorgewig- en vetsugsyfers ter wêreld
# ANC-leiers vergader vandag by die Birchwood-konferensiesentrum in Boksburg om die party se verkiesingslyste te finaliseer. Die regerende party se integriteitskommissie het volgens berigte aanbeveel dat lede wie se name in die Staatskapingskommissie se verslag genoem word, nie op die lyste verskyn nie. Van die lede wat genoem word in verband met magsmisbruik, vesaking van pligte en beweerde korrupsie, sluit in minister Gwede Mantashe, Zizi Kodwa en Khumbudzo Ntshavheni. Partye en onafhanklike kandidate het tot Vrydag tyd om hul verkiesingslyste in te dien.
Vandag is ook die laaste dag om beswaar te maak teen die voorlopige kieserslys, terwyl die Onafhanklike Verkiesingskommissie gereed maak vir die algemene verkiesing op 29 Mei. Die kommissie sal besware wat hy tot en met vandag ontvang oorweeg en ondersoek, en die uitslag volgende Maandag bekend maak. Die OVK sê daar moet aan die prosedurele vereistes van Artikel 15 van die Kieswet voldoen word wanneer mense beswaar aanteken. Intussen moet alle onafhanklike kandidate en politieke partye wat aan die verkiesing wil deelneem, teen vyfuur Vrydagmiddag benoemingsvereistes indien.
# Die African Transformation Movement doen ‘n beroep op die Oos-Kaapse departement van Onderwys om rekenskap te gee van die nalatige en onmenslike optrede van die skoolhoof en onderwysers van die Junior Sekondêre Skool Emdeni in Ludeke in Bizana wat gelei het tot die verkragting van ‘n vierjarige leerder. Die meisie, wat haar self bevuil het, is van haar klere gestroop, huis toe gestuur en moes op haar eie terugstap. ‘n Woordvoerder van die ATM, Zama Ntshona, sê sy is toe deur onbekende aanvallers verkrag:
# Sokker: Manchester City het ‘n agterstand uitgewis en Manchester United uiteindelik met drie-een verslaan in hulle Premierliga-kragmeting op die Etihad-stadion. Marcus Rashford het die besoekers ʼn voorsprong gegee met ʼn wonderwerk-doelskop in die agste minuut. In die tweede helfte het City oorheers en Phil Foden het die telling in die 56ste minuut gelykop gemaak. Hy het weer punte aangeteken om die heersende kampioene ʼn voorsprong te gee terwyl Erling Haaland die derde doel behaal het om ʼn oorwinning te verseker. Die span is nou een punt agter die voorlopers, Liverpool. City se bestuurder, Pep Guardiola, het Foden geloof:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-10-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-622-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-80-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-65-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Departement van Gesondheid sê vetsug het een van die grootste gesondheidskrisisse geword wat mense wêreldwyd in die gesig staar. Vandag is Wêreld-vetsugdag. Dié dag fokus op groter bewustheid en begrip van die oorsake van vetsug, en ook op optrede om die probleem aan te spreek en die gepaardgaande stigma aan te pak. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste oorgewig- en vetsugsyfers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….