Nuus 09:00
BULLETIN 1 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Change Starts Now onttrek deelname aan die 2024-verkiesing
# Die Vryemarkstigting sê Suid-Afrika se misdaadkrisis moet die middelpunt van die nasionale agenda wees
# En rugby, die Blitsbokke se afrigter glo hulle is goed genoeg om toernooie te wen
# Die nuwe Change Starts Now-party het ‘n week na die bekendstelling van sy manifes besluit om aan die algemene verkiesing te onttrek. Die leier, Rodger Jardine, sê die Konstitusionele Hof se onlangse beslissing en die struikelblokke wat dit veroorsaak, beteken nuwe politieke partye moet aan ʼn nadelige logistieke tydrooster voldoen om vir die stembrief van 29 Mei te kwalifiseer. Die Konstitusionele Hof weier om ʼn uitdaging teen die Verkiesingswysigingswet aan te hoor oor die aantal handtekeninge wat nuwe partye moet hê om vir die verkiesing te registreer. Jardine sê hulle sal politieke partye ondersteun wat dieselfde waardes en doelstellings het.
# Die Vryemarkstigting sê hy gaan die land se geweldsmisdaadkrisis die middelpunt van die nasionale agenda maak in aanloop tot die verkiesing op 29 Mei. Die stigting en sy projek oor die oppergesag van die reg het onlangs die Section 12 initiative van stapel gestuur. ʼn Woordvoerder van die stigting, Zakhele Mthembu, sê die veldtog wil Suid-Afrika veiliger maak en die polisie help om op regte misdaad te fokus:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê brandbestryders het daarin geslaag om twee van die drie aktiewe brandlyne in Du Toitskloof onder beheer te bring. Die brand het Woensdagmiddag ontstaan en vinnig versprei. Die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, sê brandbestryders het danksy die koeler temperature goeie vordering deur die nag gemaak:
# Die Kubaanse regering se versoek om hulp van die Wêreldvoedselprogram word gesien as ‘n teken van die Kommunisties-beheerde land se verergerende ekonomiese krisis. Die organisasie het aangekondig hy het ‘n ongekende amptelike versoek van die Karibiese eiland ontvang om melk aan jong kinders te verskaf. BBC News berig die program het reeds met die aflewering van melkpoeier begin. Die Kubaanse regering gee die Verenigde State se sanksies die skuld vir die ekonomiese krisis, maar kritici skryf dit toe aan wanbestuur.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Blitsbokke, Sandile Ngcobo, glo sy spelers kan sake omkeer in die naweek se Wêreldsewes-toernooi in Los Angeles, Amerika. Suid-Afrika is sesde op die punteleer na teleurstellende uitslae in die afgelope drie toernooie nadat hulle die eerste toernooi van die seisoen in Dubai gewen het. Hulle speel hulle groepwedstryde in Los Angeles teen die voorlopers op die punteleer, Argentinië, Ierland en Spanje. Ngcobo hou vol die Blitsbokke is goed genoeg om toernooie te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-19 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-280-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-46-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….