Nuus 09:00
BULLETIN 14 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA het ‘n etiekklag teen John Hlophe ingedien
# Vervalste goedere ter waarde van meer as nege-miljoen-rand is in Pretoria op beslag gelê
# En die VN-hoof vra BRICS-lande om ‘n multilaterale stelsel te versterk en beskerm
# Die DA het ‘n klag ingedien teen die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe, omdat hy versuim het om al sy belange volgens die kode van etiese gedrag en openbaarmaking van ledebelange te verklaar. George Michalakis van die DA sê vir die tydperk wat op 30 Junie 2026 geëindig het, het Hlophe nie bekendgemaak dat hy steeds ʼn aktiewe direkteur van twee maatskappye is nie, of dat hy die geregistreerde eienaar van ʼn eiendom in Kaapstad is nie. Michalakis sê Hlophe kon nie versuim het om sulke openbaarmakings te goeder trou te doen nie:
# Die ANC sê berigte dat eerwaarde Frank Chikane ʼn regsaak teen die party aanhangig gemaak het, is vals en nie op feite gebaseer nie. Volgens ʼn uitgelekte vertroulike verslag is 51 aanbevole burgemeesterskandidate, insluitend Chikane, se name nie in aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing in November by die Verkiesingskommissie ingedien nie. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het Chikane as die party se Johannesburgse burgemeesterskandidaat aanbeveel. Die nasionale ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê pogings om onmin te saai tussen Chikane en die party is roekeloos en misleidend.
# Die polisie en sy misdaadbestrydingsvennote het op nagemaakte goedere ter waarde van meer as nege-miljoen-rand beslag gelê tydens ‘n multidissiplinêre operasie in Marabastad, Pretoria. Meer as tienduisend nagemaakte items, insluitend handelsmerk-sportklere, skoene, skoonheidsmiddels en selfone, is tydens die weeklange optrede gekonfiskeer. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die klopjag was deel van voortgesette landwye pogings om die onwettige handel, vervaardiging en verspreiding van nagemaakte en onwettige goedere in Suid-Afrika te ontwrig en te ontbloot:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê ʼn meer gebalanseerde wêreldorde vereis ʼn volledige opknapping van instellings wat ná die Tweede Wêreldoorlog gebou is. Hy het gister die 18de BRICS-beraad in Nieu-Delhi, Indië, toegespreek. Die beraad se tema was: “Bou vir veerkragtigheid, vernuwing, samewerking en sekerheid”.Guterres sê die wêreld beweeg toenemend na ʼn multipolêre wêreld en dié verskuiwing moet omhels word. Hy sê multi-polariteit dra by om balans en gelykheid na wêreldstelsels en -instellings te bring.
# Gholf: Die tuisgunsteling Shane Lowry het ‘n rekordoorwinning van elf houe by die Ierse Ope behaal. Die 39-jarige het die laaste ronde met sewe onder 63 voltooi om op 23 onder baansyfer te eindig. Dit was sy sewende loopbaantitel en tweede Ierse Ope. Die Amerikaner Patrick Reed en Joaquin Niemann van Chili was gesamentlik tweede op 12 onder syfer. Die Noord-Ier en verdedigende kampioen Rory McIlroy het op 67 klaargemaak vir ‘n teleurstellende gelykopuitslag in die 41ste plek, 22 houe agter Lowry. Lowry het sy oorwinning as skouspelagtig beskryf:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-517-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….