Nuus 09:00
BULLETIN 28 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering betaal meer as 230-miljoen-rand se eise aan gewese mynwerkers
# Minister Naledi Pandor sê Wes-Sahara word te lank reeds onwettig beset
# En tennis, Daniil Medvedev begin die verdediging van sy Dubai-kampioenskapstitel met ‘n oortuigende oorwinning
# Die adjunkminister van Gesondheid, Sibongiseni Dhlomo, sê meer as 230-miljoen-rand se eise is uitbetaal aan gewese mynwerkers wat aan diens beseer is of asemhaling-verwante siektes opgedoen het. Dis deel van ‘n regeringsprogram om oudmynwerkers wat van 1965 tot 2019 in myne gewerk het en wat kwalifiseer, op te spoor en vergoeding, pensioen en voorsorgfondse aan te bied. Dhlomo sê minstens 20-duisend gewese mynwerkers is deur die program bereik:
# Binnelandse Sake het die Betroubare Werkgewerskema ingestel om die visum-regime te stroomlyn en visumverwerking te bespoedig, om vaardighede vir die Suid-Afrikaanse ekonomie te lok en toerisme te bevorder. Die skema verminder die visumverwerkingstyd van 22 weke tot 20 dae. Dit maak dit makliker vir werkgewers om buitelandse Suid-Afrikaners binne ‘n korter tydsraamwerk te werf en in diens te neem. Werkgewers, beleggers of ondernemings moet finansiële krag toon om te kwalifiseer vir lidmaatskap om buitelandse burgers in diens te neem, moet opleidingsprogramme vir Suid-Afrikaanse burgers bedryf en goeie korporatiewe burgerskap toon.
# Die GOOD Party sê hy het met ander opposisiepartye kragte saamgesnoer om ʼn mosie van wantroue in te dien teen die DA-burgemeester in Drakenstein, Conrad Poole. Dit volg na bewerings dat hy ʼn skema bedryf waar raadslede betaal vir lonende posisies op die burgemeesterskomitee. Die GOOD Party se woordvoerder, Keagen Gertse, sê die mosie wat vandag aangehoor word, is die opposisie se manier om die DA te hou aan sy belofte van goeie regering:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sê die voortgesette onwettige besetting van Wes-Sahara is ʼn klad op die mensdom se gewete en duur reeds te lank. Sy het by die 55ste sitting van die Verenigde Nasies se Menseregteraad in Genève, Switserland, tydens ʼn geleentheid gepraat wat deur die Genève-ondersteuningsgroep vir Wes-Sahara gereël is. Pandor sê hulle bly bekommerd oor die dooiepunt om deur ʼn referendum ʼn blywende oplossing vir selfbeskikking in ooreenstemming met die betrokke resolusies te vind.
# Tennis: Die wêreld-nommervier, Daniil Medvedev, het die verdediging van sy Dubai-kampioenskapstitel met ‘n oortuigende oorwinning begin. Die Rus het in sy eerste wedstryd sedert hy verlede maand die Australiese Ope-eindstryd verloor het, sy 340ste loopbaanoorwinning behaal met ‘n sege van 6-3, 7-5 oor Alexander Shevchenko van Kazakhstan. Medvedev speel vandag in die ronde van 16 teen Lorenzo Sonego van Italië. Ugo Humbert van Frankryk het sy landgenoot Gael Monfils met 4-6, 6-3, 6-3 geklop, terwyl die vierde gekeurde Karen Khachanov van Rusland vir Luca Van Assche van Frankryk in skoonstelle verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-12-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-149-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….