Nuus 09:00
BULLETIN 2 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê die aanlyn kieserregistrasieportaal bly aktief
# Die Staatsdiensvakbond sê die sukses van die uitgebreide rybewys-inisiatief sal afhang van vinnige implementering
# En Span Suid-Afrika is gediskwalifiseer in die mans 4 maal 100 meter-aflos by die Statebondspele
# Die uitvoerende hoof van die Verkiesingskommissie, Sy Mamabolo, sê die aanlyn kieserregistrasieportaal bly aktief, wat kiesers toelaat om te registreer en hul besonderhede op te dateer om te verhoed dat hulle die plaaslikeregeringsverkiesing misloop. Mamabolo sê die portaal sal oop bly totdat die verkiesing afgekondig word. Hy doen ‘n beroep op burgers om nou te registreer of hul besonderhede op te dateer eerder as om tot die laaste minuut te wag. Hy sê dit sal help om onnodige opeenhoping op die platform te vermy in die dae en ure voor die afkondiging:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die sukses van die inisiatief vir verlengde rybewyse sal afhang van vinnige implementering en voortgesette versterking van rybewysstelsels om doeltreffendheid, integriteit en die uitwissing van korrupsie te verseker. Die woordvoerder, Claude Naicker, sê die verlenging van die hernuwingstydperk tot tien jaar, sal die koste oor ‘n bestuurder se leeftyd verminder en werkers met meer besteebare inkomste laat. Hy sê hierdie hervorming bewys die regering se bereidwilligheid om praktiese oplossings te oorweeg wat onnodige burokrasie verminder terwyl openbare dienste verbeter word:
Die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Vervoer ondersteun intussen ook die Kabinet se besluit om die geldigheidstydperk van rybewyse van vyf jaar na tien jaar te verleng vir voertuie in sekere kategorieë. Die voorsitter, Donald Selamolela, sê enige verbeterings aan die stelsels word altyd verwelkom, aangesien dit die regering in staat sal stel om op die hoërisikogebiede van die stelsel te fokus. Hy sê hy hoop die regering sal nie verliese sal ly as gevolg van hierdie verlenging nie, en dat administratiewe funksies aansienlik sal verbeter.
# Die DA in Gauteng het die burgemeester van Rand West City, William Matsheke, gevra om ‘n belangeverklaring aan die Kantoor van die Speaker te voorsien. Jacques Julius van die party sê tydens ‘n onlangse Spesiale Raadsvergadering het die burgemeester volgehou dat sy onlangse besoek aan die FIFA Sokkerwêreldbeker in die Verenigde State van Amerika met sy eie fondse betaal is. Hy het aangehaal dat hy ‘n gevestigde sakebelang gehad het om vir hierdie reis te betaal:
# En sportnuus:
# Statebondspele: Span Suid-Afrika het sy baan- en veldvertoning in Glasgow met ‘n totaal van vier medaljes afgesluit. Kyle Rademeyer het silwer in die mans se paalspringeindronde verower met ‘n seisoen-beste van 5,70-meter, terwyl Kurtis Marschall van Australië die goud gewen het met ‘n Spele-rekord van 5,85-meter. In die mans se 4 maal 100 meter-afloseindronde is die Suid-Afrikaners egter gediskwalifiseer vir ‘n baanoortreding. Mvuyo Moss, Cheswill Johnson, Bradley Nkoana en Akani Simbine het uit baan ses weggespring en vyfde geëindig nadat Simbine gesukkel het om in die pylvak by te hou.
# Rugby: Paarl Gimnasium het hul vernederende nederlaag van verlede jaar gewreek deur die Interskole-titel op te raap voor hul grootste teenstanders, die Hoër Jongenskool Paarl. Gimmies het Saterdag vier drieë teen Boishaai se enkele drie op die Faurestraat-stadion in die Paarl gedruk. Die buitesenter en Man van die Wedstryd, Derik Cloete, het twee keer oorgeduik met Gimmies wat met 25-11 voor ‘n skare van 25-duisend geseëvier het. Dit was Gimmies se 15de agtereenvolgende oorwinning na hul enigste nederlaag in die 2026-seisoen met 20-19 teen Stellenberg. Dit was die vyfde nederlaag van die seisoen vir Hoër Jongenskool Paarl.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….