Nuus 09:00
BULLETIN 20 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die ANC moet regverdig waarom hy verdien om aan bewind te bly
# Paul Mashatile sê geslagsgeweld en vrouemoord het ‘n keerpunt in Suid-Afrika bereik
# En, huldeblyke stroom in na die dood van ‘n voormalige Amerikaanse presidentsvrou Rosalynn Carter
# Die ANC se onlangse gebruik van adjunkhoofregter Mandisa Maya se foto op ʼn verkiesingsregistrasie-plakkaat is ʼn aanduiding van die probleme wat voorlê. Dit is die mening van die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela. Maya se gesig pryk op ʼn ANC-plakkaat wat op hulle sosialemedia-platforms gelaai is om mense aan te moedig om te registreer om te stem. Die party het bygevoeg die toekoms is hervorming en het ook genoem dat Maya die eerste vroulike adjunkhoofregter is. Mkhabela sê die ANC moet steeds regverdig waarom hy verdien om aan bewind te bly.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê geslagsgeweld en vrouemoord het ‘n keerpunt in Suid-Afrika bereik en sal slegs deur gesamentlike pogings tot ‘n einde gebring kan word. Hy het gister die amptelike bekendstelling van die Takuwani Ri-ime-aksieprogram by Ha-Masia buite Malamulele in Limpopo, gelei. Dit was die derde Nasionale Mansparlement wat by die plaaslike veeldoelige sentrum aangebied is. Mashatile sê hoewel wetgewing ‘n kritieke rol speel in die hantering van geweld teen vroue en meisies, is voetsoolvlak-ingrypings wat hierdie proses ondersteun, ewe belangrik.
# Die Johannesburgse noodbestuursdiens doen ʼn beroep op godsdiensleiers om die veiligheid van gemeentelede tydens rituele te waarborg. Dit volg nadat ʼn 18-jarige meisie en 21-jarige man Saterdagaand tydens ʼn reinigingsritueel in die Kliprivier in Olifantsvlei verdrink het. ʼn Woordvoerder van die noodbestuursdiens, Robert Mulaudzi, sê voorvalle soos hierdie kan voorkom word:
# Rugby: Die voormalige Springbok Wêreldbeker-slot Hannes Strydom is in die ouderdom van 58 oorlede. Hy is volgens berigte gister in ‘n ongeluk dood. Strydom het in 21 toetse as slot vir die Springbokke gespeel en was in die beginspan van die 1995 Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks. Hy het in Augustus 1997 in sy laaste Bok-wedstryd gespeel. Strydom is die vyfde lid van die seëvierende 1995-span wat oorlede is, na Ruben Kruger, Chester Williams, Joost van der Westhuizen en James Small.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-205-dollar-56-sent. Die prys van goud is een-duisend-980-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-11-sent per vat.
# En, laastens: Huldeblyke stroom in na die dood van Amerika se voormalige presidentsvrou, Rosalynn Carter, vrou van oudpresident Jimmy Carter. Sy was 96 jaar oud. Haar familie het Vrydag bekend gemaak sy is in ʼn verpleeginrigting vir terminale pasiënte waar haar 99-jarige man reeds sedert Februarie versorg word. Sy is in Mei met demensie gediagnoseer. Oudpresident Carter sê in ʼn verklaring Rosalynn was sy gelyke vennoot in alles wat hy ooit bereik het. Oudpresident George W Bush en sy vrou Laura het Carter as ʼn sterk vrou met integriteit beskryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….