Nuus 09:00
BULLETIN 21 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Magashule sê minister Mchunu moes gevra het om opsy te staan
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement verwerp ‘n misleidende Sunday Times-artikel oor aanstellings op hospitaalrade
# En Japan se eerste minister weier om te bedank ondanks ‘n verkiesingsnederlaag
# African Congress for Transformation se leier, Ace Magashule, het die ANC se opsystaanreël gekritiseer. Hy sê die party moes die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gevra het om opsy te staan uit sy rolle in die ANC en die Parlement. Die minister is op spesiale verlof geplaas nadat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, hom beskuldig het dat hy bande met misdaadbendes het en by polisieondersoeke inmeng. Magashule sê die opsystaanreël word selektief toegepas:
# Die vakbond Giwusa sê Suid-Afrika benodig ‘n konstruksiebedryf wat ingestel is op sosiale behoeftes en nie op korporatiewe winsbejag nie. Die leier van GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê die Raad vir die Geboude Omgewing se bevindings met die instorting van die gebou in George waar 34 mense dood en 28 beseer is, bevestig wat werkers elke dag ondervind as gevolg van ‘n genadelose strewe na wins. Hy sê werkers regdeur die Suid-Afrikaanse ekonomie word as vervangbare komponente beskou:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê die Sunday Times-artikel, “Young lions get their share”, oor aanstellings op hospitaalrade, is misleidend en deurspek met foute. Die artikel beweer minstens agt lede van die ANC-jeugliga is op rade van staatshospitale in die provinsie aangestel. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die bewerings dat raadslede sowat tien-duisend-rand vir elke raadsvergadering wat hul bywoon ontvang, is vals en onverantwoordelik:
# Japan se eerste minister, Shigeru Ishiba, sê hy het geen planne om te bedank nie, ondanks sy koalisieparty wat in die taai verkiesing sy meerderheid in die hoërhuis verloor het. Sy Liberale Demokratiese Party en koalisievennoot Komeito het 50 setels benodig om die hoërhuis met 248 setels te verseker, in ‘n verkiesing waarin die helfte van die setels beskikbaar was. Hy het egter slegs 47 verseker, met een setel oor om vanoggend te verklaar. Ishiba sê hy aanvaar die uitslag, maar sy fokus is op handelsonderhandelinge met die VSA.
# Tennis: Kanada het die gasheerland, Italië, in Bari met 2-1 verslaan om die Hopman-beker die eerste keer ooit te wen. Bianca Andreescu het Kanada ‘n voorsprong gegee toe sy Lucia Bronzetti geklop het. Die gashere het teruggeveg en Flavio Cobolli wat Wimbledon se kwarteindronde gehaal het, het Félix Auger-Aliassime in drie stelle verslaan. In die dubbelspel het Andreescu en Auger-Aliassime egter die oorwinning oor Bronzetti en Cobolli beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70 sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-75 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-496 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….