Nuus 09:00
BULLETIN 12 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# GIWUSA is bekommerd oor die voortdurende stygings in brandstof- en elektrisiteitspryse
# Indië en Rusland wil bande versterk en Putin vra BRICS om die Westerse invloed teen te werk
# En tennis: Zverev en Shelton haal die eindstryd van die Amerikaanse Ope
# Die vakbond GIWUSA sê hy is werklik bekommerd oor die aanhoudende stygings in brandstof- en elektrisiteitspryse, wat volgens hom Suid-Afrikaanse werkers en hul gesinne benadeel. Hierdie maand se petrolstyging was een-rand-34 sent per liter, terwyl diesel met tussen twee-rand-94-sent en drie-rand-15-sent per liter gestyg het. Die president van GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê daar sal volgende maand moontlik nóg ‘n rekordverhoging in brandstofpryse wees. Hy sê elektrisiteitstariewe het oor die afgelope twintig jaar meer as dertien keer vermenigvuldig:
Die vakbond vra intussen ook dringende en tydige gesprekke oor maatreëls om die uitwerking van die verwagte brandstofprysverhogings in Oktober te versag. Suid-Afrikaanse motoriste kan ‘n verhoging van tussen een-rand-81-sent en een-rand-93-sent per liter petrol verwag, terwyl diesel tussen een-rand-73-sent en twee-rand-drie-sent per liter duurder kan word. Sebei vra ‘n ingrypende herstrukturering van Suid-Afrika se energiesektor om werkers minder kwesbaar te maak in die wisselvallige internasionale markte:
# Die Vryheidsfront Plus in die Oos-Kaap sê ‘n oordadige gala wat die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, as deel van haar stadsrede gehou het, is ‘n klap in die gesig van inwoners wat met swak dienslewering worstel. Bill Harington van die party sê die munisipaliteit het te kampe met ‘n werkloosheidsyfer van 33-persent, verouderde infrastruktuur, finansiële druk en lae inkomstevordering, terwyl miljoene rand in voorwaardelike toekennings onbestee gebly het. Harington sê die metro moet op basiese dienste fokus en toesien dat openbare geld behoorlik aangewend word.
En nou na die buiteland:
# Die Indiese eerste minister, Narendra Modi, en die Russiese president, Vladimir Putin, het ooreengekom om bestaande bande tussen hul lande te versterk. Putin sê die BRICS-groepering moet ‘n nuwe platform vir wêreldwye groei bou wat nie deur Westerse reëls bepaal word nie. Modi en Putin het gesprekke in die Indiese hoofstad gevoer op die vooraand van ‘n BRICS-beraad vandag, wat die Chinese president, Xi Jinping, en Iran se president, Masoud Pezeshkian, ook sal bywoon. Putin se spesiale gesant, Kirill Dmitriev, het aan Reuters gesê BRICS ontwikkel van ‘n geopolitieke groepering tot ‘n meer praktiese ekonomiese vennootskap.
# Tennis: Alexander Zverev het die eindstryd van die mans-enkelspel by die Amerikaanse Ope gehaal na hy gister vir Karen Khachanov in skoon stelle op Flushing Meadows geklop het. Die topgekeurde Duitser het sy senuwees in twee spannende valbylpotte in toom gehou om sy tweede verskyning in die eindstryd van die Amerikaanse Ope te verseker. Zverev sal teen die 23-jarige Amerikaner Ben Shelton te staan kom wat sy landgenoot Frances Tiafoe in vyf stelle verslaan het. In vandag se vroue-eindstryd kom die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, teen Elena Rybakina te staan. Sabalenka mik na ‘n derde agtereenvolgende titel, terwyl Rybakina op nog ‘n groot titel hoop.
# En laastens, rugby: Die Springbok-vroue pak hul Europese toer vir die nuwe Vroue-15 Wêreldreeks met ‘n grootliks onveranderde groep spelers aan. Die voormalige Junior Springbok-vroue-senter, Naima Hlatshwayo, vervang die beseerde Zintle Mpupha. Die toer begin Vrydag met ‘n toets teen Wallis in Cardiff, gevolg deur toetse teen Italië die 26ste September en Spanje die 4de Oktober. Daarna speel die Springbok-vroue die 24ste en 31ste Oktober in Kaapstad teen Ierland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….