Nuus 09:00
BULLETIN 27 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die ANC is sy eie grootste teenstander
# ‘n Verhoging in staatsdokters se salarisse word bepleit
# En motorsport, die uitslag van die ondersoek na Red Bull se spanbaas word binnekort verwag
# In plaas daarvan dat hy homself regruk soos hy dikwels belowe in party-dokumente en resolusies wat by konferensies aanvaar word, is die ANC besig om homself te benadeel. Dis die mening van die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela, wat glo die regerende party het toegelaat dat korrupsie en onbevoegdheid die regering se kenmerke geword het. Hy sê in ‘n artikel vir News24 die ANC-verkiesingsmanifes is op ontevrede kiesers gemik omdat die party sê hy gaan sy foute regstel as hy nog ʼn kans gegun word om te regeer. Mkhabela sê die ANC is sy eie grootste teenstander.
# Die DA in Gauteng sê hy is bekommerd dat restaurant-, kroeg- en taverne-eienaars wat dranklisensies nodig het, sukkel om hulle aansoeke by die Gautengse Drankraad in te dien. Dit word toegeskryf aan beurtkrag en ʼn stukkende kragopwekker. Patrick Atkinson van die DA sê hulle het uit ʼn betroubare bron verneem daar is 600 agterstallige aansoeke by die Gautengse Drankraad:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging bepleit ‘n verhoging in staatsdokters se salarisse. Die vereniging sê dokters in staatsklinieke en hospitale verdien baie minder as hul eweknieë in die privaat sektor. ‘n Gesondheidsekonoom, Sandile Mhlongo, ondersteun hierdie oproep en voeg by gelykheid in betaling sal help om wanbalanse uit die weg te ruim:
# Die Palestynse eerste minister, Mohammad Shtayyeh, het sy bedanking ingedien om algemene konsensus te vergemaklik onder Palestyne oor die konflik tussen Israel en Hamas in Gaza. President Mahmoud Abbas het egter nog nie sy bedanking aanvaar nie. Abbas beywer hom vir ‘n bewind van die Palestynse Owerheid in Gaza, maar ondervind teenstand van Palestyne en die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu. Die stap is volgens berigte ‘n teken van openheid vir hervorming te midde van voortgesette internasionale onderhandelings oor ‘n skietstilstand. Die ekonoom Mohammad Mustafa sal na verwagting oorneem as eerste minister.
# Motorsport: Die bevindings van ‘n onafhanklike ondersoek na die Red Bull-spanbaas, Christian Horner, sal na verwagting bekendgemaak word vóór die naweek, wanneer die seisoen met die Bahreinse Grand Prix afskop. Die ondersoek is gedoen ná bewerings deur ‘n vroulike kollega dat Horner homself onbehoorlik teenoor haar gedra het. Hy ontken die bewerings. Die omvattende verslag oor die ondersoek is volgens berigte aan die Red Bull-raad oorhandig om te besluit of Horner in sy tweeledige rol as spanhoof en uitvoerende hoof sal aanbly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-91-sent teen die euro en 24-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-853-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……