Nuus 09:00
BULLETIN 26 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verslag deur ‘n hoëvlak-paneel oor die onderwysberoep word vandag vrygestel
# Drie verdagtes verskyn vandag in die hof in verband met die moord op ‘n Duitse toeris
# En, die voormalige Brasiliaanse president Jair Bolsonaro ontken staatsgreep-bewerings teen hom
‘n Verslag deur ‘n hoëvlak-paneel oor onderwys as beroep word vandag in Sandton, Johannesburg bekendgestel. Dit vind plaas by die 14de Forum vir Beleidsdialoog van die Internasionale Taakspan oor Leerkragte in Onderwys. Die globale verslag oor onderwystekorte sal óók by die forum vrygestel word. Die Departement van Basiese Onderwys se woordvoerder, Terence Khala, sê onderwystekorte is ‘n ingewikkelde en voortdurende struikelblok vir onderwysdoelwitte wêreldwyd, asook vir Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte in Onderwys:
# Drie buitelandse burgers verskyn na verwagting vandag in die Northam-landdroshof in Limpopo in verband met die moord op ‘n Duitse toeris. Die polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba, sê die 74-jarige slagoffer het Botswana verlede Vrydag verlaat en na Suid-Afrika gereis. Toe hy in Lephalale in die Waterberg-distrik aankom, het hy ʼn onbekende ryloper ʼn geleentheid gegee. Ledwaba sê hulle het by ʼn drankwinkel gestop waar die verdagte se twee vriende by hulle aangesluit het, waarna hulle almal na die slagoffer se verblyf in Moruleng, Noordwes, gery het:
# Die DA se Wes-Kaapse premierskandidaat, Alan Winde, sê Knysna is in die tragiese korrupsiegreep van die ANC/EFF/Patriotiese Alliansie-koalisie, en is op die randjie van ineenstorting. Hy was die naweek op ‘n oorsigbesoek van twee dae aan die dorp en het met inwoners gepraat. Winde sê Knysna se mense kan nie meer staatmaak op basiese dienslewering nie, en hulle word daagliks gekonfronteer met uitdagings wat grens aan menseregteskendings, asook onderbroke watertoevoer, rioolstortings en vullis wat in die strate ophoop. Hy sê die inwoners moet die koalisie by die stembus straf.
# Die voormalige president van Brasilië, Jair Bolsonaro, ontken bewerings dat hy deel was van ʼn staatsgreep-komplot om aan bewind te bly. Die polisie stel ondersoek in of die 64-jarige Bolsonaro ʼn staatsgreep aangehits het nadat hy die 2022-verkiesing verloor het. Hy word ook beskuldig dat hy tydens sy presidentskap onwettig juwele van Saoedi-Arabië ontvang het. Bolsonaro het gister in São Paulo aan tienduisende ondersteuners gesê die bewerings teen hom is polities gemotiveerd. Hy mag weens twee skuldigbevindings aan magsmisbruik nie voor 2030 vir ʼn politieke pos in aanmerking kom nie.
# Gholf: Die Sweed Björn Åkesson het sy terugkeer gevier deur die Nelson Mandelabaai-kampioenskap by die Humewood-gholfklub in Gqeberha te wen. Die 35-jarige speler het in 2017 uitgetree nadat hy sy speelregte in die DP World Tour en sy sin vir die spel verloor het. Hy het ʼn ronde van vier onder 68 behaal om een hou voor die tweemalige wenner op die Uitdaagtoer, Lee Slattery van Engeland, te eindig, nadat die kampioenskap weens sterk wind tot 54 putjies verkort is. Die Australiër Hayden Hopewell was derde op 16 onder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-489-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-32-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….