Nuus 09:00
BULLETIN 8 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF eis volle openbaarmaking van die 15 SETA’s wat deur die Ouditeur-Generaal uitgewys is
# Die staatsdiensvakbond vra vir bestendigheid by Onderstepoort
# En Amerikaners kan hoër pryse te wagte wees wanneer Kanada se vergeldingstariewe in werking tree
# Die EFF vra die volle openbaarmaking van al 15 Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede wat by die Ouditeur-generaal se bevindinge betrek word. Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het bevind die aanstelling van die SETA’s se raadslede was onregmatig, omdat belangrike bestuursreëls verontagsaam is. Sy sê sommige van die aanstellings is sonder die verpligte werwingsproses gemaak. Die EFF hou vol dat die SETA-stelsel gekaap is en as begunstiging gebruik word eerder as instrument vir vaardigheidsontwikkeling.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra bestendigheid en goeie bestuur by Onderstepoort Biologiese Produkte, na die skorsing van die liggaam se waarnemende uitvoerende hoof, Jacob Modumoh. Dit volg na bewerings van wangedrag rondom die prysbepaling van bek-en-klouseer-entstowwe deur die plaaslike entstofvervaardiger. Claude Naicker van die vakbond sê die publiek se vertroue in die vervaardiger asook die vertroue van werknemers, boere en ander belanghebbendes moet deur deursigtige en verantwoordelike bestuur gehandhaaf word:
# Die vakverbond Cosatu in Gauteng sê die provinsiale regering se vordering met die lewering van belangrike infrastruktuurprojekte is bemoedigend. Dit volg na die afhandeling van sewe groot projekte, insluitend drie hipermoderne fasiliteite en skole. Cosatu se provinsiale voorsitter, Amon Monyela, sê inwoners moet sien dat meer infrastruktuurprojekte doeltreffend, betyds en met vakmanskap van gehalte afgehandel word. Hy sê besteding aan infrastruktuur moet steeds ‘n katalisator wees vir ekonomiese groei en werkskepping:
# Kanadese vergeldingstariewe op Amerikaanse goedere ter waarde van 441,17-miljard-rand word vandag van krag, terwyl die handelsoorlog tussen die twee bondgenote voortsleep. Die tariewe wat wissel van 15- tot 50-persent volg nadat president Donald Trump van Amerika verlede maand 50-persent tariewe op Kanadese goedere ingestel het nadat handelsgesprekke ʼn dooiepunt bereik het. Die maatreëls raak Amerikaanse sektore soos staal, suiwel, toestelle, landboutoerusting en elektronika. Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê enige handelsooreenkoms moet tot sy landsburgers se voordeel wees:
# Tennis: Die tweede gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan het een oorwinning nodig om wêreld-nommer-een te word. Sy is vir die eerste keer in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope, nadat sy Naomi Osaka van Japan verslaan het. Rybakina kom nou teen die Chinese kwalifiseerder Zheng Qinwen te staan, wat die Pool Iga Swiatek in twee stelle uitgeskakel het. Die 2023-kampioen Coco Gauff het met haar landgenoot Iva Jovic afgereken, en speel volgende teen Mirra Andreeva van Rusland, wat na haar sege oor Anastasia Potapova, vir die eerste keer in haar loopbaan onder die laaste agt in New York is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-759-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-433-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….