Nuus 09:00
BULLETIN 7 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is hierdie week ‘n nuwe ronde sperdatums vir kandidaatbenoemings
# Duitsland se verregse AfD wen ‘n streeksverkiesing
# En motorsport: Kimi Antonelli wen sy tuiswedren in Italië
# Politieke partye en onafhanklike kandidate wat nie-nakomingskennisgewings ontvang het, het tot 5-uur vanmiddag om die uitstaande dokumente in te dien. Dit kan ‘n kopie van die kandidaat se ID of ‘n ondertekende benoemingsaanvaarding insluit. Die Verkiesingskommissie sal Woensdag kennisgewings uitreik aan kandidate wat ook as onafhanklike kandidate benoem is, of as kandidate verskyn op die lys van ander politieke partye. Die OVK sal die finale lys van kandidate wat aan al die vereistes voldoen, op 16 September saamstel en bekend maak.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die studente-organisasie, SASCO, gevra om die regering te help om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente teen bedrog, manipulasie en opportunisme te beskerm. Die Spesiale Ondersoekeenheid het afgekom op wydverspreide bedrog en onregmatige betalings in die skema se studentebefondsing-stelsel. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê elke rand wat deur ‘n “spook”-student, skelm verhuurder en oneerlike diensverskaffer gesteel word, is ʼn rand wat van ʼn regte werkersklas-student gesteel word:
# Die munisipale vakbond, Samwu, sê hy ondersteun maatreëls om wetstoepassing te verbeter, maar Stad Kaapstad moet eers werkers se bestaande kommer hanteer voor hulle bykomende verantwoordelikhede kry. Die metro het verlede maand amptelik ‘n interregering-geskil met die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, verklaar ná die regering se weiering om die metropolisie ondersoekmagte te gee. Samwu se woordvoerder, Hlalanathi Gagayi, sê hy is bekommerd dat werkers sonder ooreenkomstige vergoeding pligte op hoër vlakke moet uitvoer:
# Die Duitse party, Alternatief vir Duitsland, het ʼn klinkende oorwinning in Sakse-Anhalt behaal wat dit die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog op staatsvlak aan bewind plaas. Volgens voorlopige uitslae het die party 44,4-persent van die stemme op hom verenig. Hy kon egter nie ʼn volstrekte meerderheid behaal nie. Die Duitse kanselier Friedrich Merz se party, die Christelike Demokratiese Unie, kon slegs 17-persent van die stemme kry. AfD se leier in Sakse-Anhalt, Ulrich Siegmund, sê die mense het dit baie duidelik gemaak dat hulle uiteindelik politieke verandering wil hê.
# Motorsport: Die kampioenskapsvoorloper Kimi Antonelli het vir opwinding gesorg en sy tuiswedren, die Italiaanse Grand Prix, gewen nadat as gevolg van strafpunte vir ‘n nuwe enjin, die wedren uit die 19de wegspringplek begin het. Die 20-jarige Antonelli is die eerste Italianer sedert 1966 om by Monza te wen. Sy Mercedes-spanmaat George Russell moes met die tweede plek tevrede wees en het die podim gedeel met Max Verstappen van Red Bull wat derde was. Antonelli is nou 66 punte voor Russell in die stryd om die wêreldtitel. Hy sê hy fokus nou van een wedren na die ander:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-679-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-402-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….