Nuus 09:00
BULLETIN 22 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van die verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie is onseker oor die aantal deelnemende partye en stembriefgrootte
# En, die Europese Kommissie verwelkom nuwe sanksies teen Rusland
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se verhouding met Amerika word gekenmerk deur wedersydse respek en ‘n bereidheid om opbouende gesprekke te voer, selfs oor kwessies waaroor hulle verskil. Hy het gister in Kaapstad ʼn tweeparty-afvaardiging van die Amerikaanse kongres ontvang wat op uitnodiging van die Aspen Instituut in die land is. Die presidensie sê die afvaardiging het die bilaterale verhouding tussen die twee lande, die belangrikheid van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, en die Israelies-Palestynse konflik bespreek.
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die uitdagings erken met die voorbereiding vir vanjaar se algemene en provinsiale verkiesing nadat president Cyril Ramaphosa die datum op 29 Mei vasgestel het. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, noem onsekerheid oor die aantal mededingende partye en onafhanklikes, wat die grootte van die stembrief gaan beïnvloed. Hy sê met meer as 27,4-miljoen geregistreerde kiesers, worstel die OVK met logistieke struikelblokke te midde van ontwikkelende verkiesingsdinamika:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, het kommer uitgespreek oor die billike verspreiding van inkomste wat die nasionale regering aan provinsies toeken. Die provinsiale billike aandeel maak sowat 75-persent van die begroting uit terwyl voorwaardelike toelaes ongeveer 18-persent van die totale begroting beloop. Wenger sê hulle is bekommerd oor die manier waarop die nasionale regering die provinsiale billike aandeel bereken. Sy sê die Wes-Kaap se bevolking is die derde grootste in die land, maar die provinsie kry slegs die vyfde grootste begrotingstoekenning.
# Die Europese Kommissie het die goedkeuring verwelkom van ‘n 13de pakket sanksies teen Rusland deur die lede van die Europese Unie. Die sanksies sluit die verbod in op 200 bykomende instellings en persone wat daarvan beskuldig word dat hulle betrokke was by die inval in Oekraïne. Die fokus is op entiteite en individue wat deel is van Rusland se militêr-industriële groep, en diegene wat by die handel in en ontvoering van Oekraïnse kinders betrek word. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê hulle moet voortgaan om die Russiese president Vladimir Putin se oorlogsmasjien te verswak.
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-baas, Toto Wolff, sê hulle is tevrede met die wettigheid van die vernuwende ontwerp van die voorste vlerk op hulle nuwe motor. Die voorste vlerk het tydens die voorseisoentoetse in Bahrein onder die loep gekom oor die manier waarop dit die lugvloei rondom die motor beïnvloed. Dit lyk asof die span ʼn skuiwergat gevind het, twee jaar nadat F1-regulasies verander is om los vlerk-dele te verbied. Wolff sê hulle het tydens die ontwerp van die voorste vlerk met die FIA beraadslaag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-569-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-26-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….