Nuus 09:00
BULLETIN 4 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF wil die verkiesing van die nuwe medevoorsitter van die Verdedigingskomitee ongrondwetlik verklaar hê
# COSATU versoek die Foschini-groep om sy winkels met omsigtigheid te sluit
# En rugby: Morné Steyn sê die Bokke sal môre ‘n ongelooflike ervaring op die FNB-stadion hê
# Die EFF het aan die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, geskryf om die verkiesing van die gesamentlike staande komitee oor Verdediging se medevoorsitter, Mzimasi Hala, ongrondwetlik en onwettig te verklaar. Dit volg nadat die ANC Malusi Gigaba Woensdag skielik en onverklaarbaar uit die amp verwyder het. Die EFF sê die vergadering waar Hala aangestel is, was in oortreding van die Parlement se Gesamentlike Reëls. Hy voer aan ‘n gesamentlike komitee kan nie ʼn plaasvervanger vir ʼn posisie verkies sonder dat ʼn amptelike onttrekking of bedanking behoorlik by die Parlement ingedien is nie.
# Die vakverbond Cosatu het die Foschini-groep gevra om ernstig te besin oor die uitwerking wat die sluiting van winkels op sy personeel gaan hê, en ʼn alternatiewe oplossing versoek. Die maatskappy wil teen 2029 sowat 280 winkels in Afrika sluit en op aanlyn verkope konsentreer wat tans beter presteer as gewone bedrywighede. Cosatu-woordvoerder, Nonzuzo Dlamini, sê die beplande sluiting kom op ʼn tydstip waar kunsmatige intelligensie en outomatisering tot afleggings lei. Sy sê werkers word dikwels sonder voldoende vergoeding gelaat:
# Die IVP eis die onmiddellike ontplooiing van die KwaZulu-Natal Politieke Taakspan om die moord op twee raadslede in afsonderlike voorvalle te ondersoek. Die raadslid van Wyk 17, Khethelo Mdluli, van die uMlalazi munisipaliteit, is verlede week by sy huis in Gingindlovu geskiet en hy is later in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Die kandidaat vir Wyk 8 van die uMshwathi munisipaliteit, Lucky Sokhela, is Dinsdag doodgeskiet. Die woordvoerder van die IVP, Mkhuleko Hlengwa, sê die moord op twee politieke kandidate in een week is ‘n kommerwekkende neiging:
# Die jurie in die hofsaak van ʼn ma van Massachusetts wat aangekla word van die moord op haar drie kinders in 2023, onderhandel vandag vir ʼn sewende dag. Die 36-jarige Lindsay Clancy ontken nie dat sy haar kinders verwurg het nie. Haar prokureur sê egter sy behoort nie strafregtelik aanspreeklik te wees nie omdat sy aan nageboortelike psigose gely het. Aanklaers voer aan dat Clancy doelbewus, rasioneel en vinnig opgetree het om haar kinders te vermoor. Indien die jurie nie ʼn eenparige besluit neem nie, kan die regter ʼn nietige geding verklaar.
# Rugby: Die voormalige Springbok-losskakel Morné Steyn sê die groep van 2026 kan ‘n ongelooflike ervaring in môre se derde Toets teen die All Blacks op die FNB-stadion in Johannesburg verwag. Die stadion, bekend as die Calabash, sal na verwagting stampvol wees met tot 90-duisend toeskouers. Die slot Eben Etzebeth en die kaptein Siya Kolisi is die enigste Springbokke wat al voorheen op die stadion gespeel het. Steyn het twee keer gedurende sy loopbaan daar gespeel en sê dis ‘n ander ervaring wanneer 90-duisend mense jou ondersteun.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-197-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-469-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….