Nuus 09:00
BULLETIN 19 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die DA sal nie op sy eie tot die nasionale regering verkies word nie
# Minister Didiza maak vandag die bevindings bekend van ‘n studie oor grondhervorming
# En, Oppenheimer oorheers die Bafta-toekennings
# Die DA se vermeende onvermoë om kiesers te oortuig om hom op sy eie as nasionale regering te verkies, is ‘n aanklag teen sy leiers, lede en invloedryke skenkers. Dis die mening van die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela. Die party het Saterdag sy verkiesingsmanifes in Pretoria bekend gestel. Die leier, John Steenhuisen, glo die moontlikheid dat die ANC minder as 50-persent kan kry, skep geleentheid vir ʼn DA-geleide koalisie om oor te neem. Mkhabela het in ʼn artikel vir News24 gesê die DA se pad na mag hang af van koalisie-ooreenkomste.
# Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, maak vandag die bevindings bekend van die studie oor finansiële vergoeding wat aan begunstigdes van grondhervorming betaal is. Dit is deel van die regering se grondhervormingsplan. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die insigte wat uit die evaluasie na vore gekom het, sal gebruik word vir beleidsvorming en ingrypings in die program:
# KwaZulu-Natal se Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sê rampspanne verleen hulp nadat ʼn donderstorm die naweek in Nongoma verwoesting gesaai het. Hewige donderstorms en swaar reën het verskeie dele van Nongoma getref en skade aangerig aan huise en openbare infrastruktuur soos skole, gemeenskapsale, kerke en Eskom-kraglyne. Die departement se woordvoerder, Siboniso Mngadi, sê 78 huise is beskadig en meer as 600 mense word geraak:
# Sokker: Manchester United het Luton Town met twee-een verslaan om in die wedloop te bly en onder die Premierliga se top-vier te eindig. Dit beteken hulle kwalifiseer vir volgende seisoen se Kampioeneliga. ʼn Tweetal deur doelskieter Rasmus Hojlund, het die kragmeting vir Red Devils op Kenilworth Road beklink. Met hierdie sege het United die gaping tussen hom en vyfde-geplaaste Tottenham tot drie punte verklein en hulle is nou vyf punte agter Aston Villa wat vierde is. Die bestuurder, Erik ten Hag, sê hulle moes die wedstryd beter beheer het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-185-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-18-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-84-sent per vat.
# En, laastens: Christopher Nolan se epiese biografiese riller, Oppenheimer, het sewe BAFTA-rolprenttoekennings gewen, insluitend die een vir Beste Rolprent. Nolan, wat voorheen reeds vir agt Baftas benoem is, is as Beste Regisseur aangewys, met Cillian Murphy as Beste Akteur. Poor Things het vyf toekennings verower met Emma Stone as Beste Aktrise. Die Bafta vir Beste Ondersteunende Aktrise het aan Da’Vine Joy Randolph gegaan vir haar rol in The Holdovers. Beste Dokumentêr is toegeken aan 20 Days in Mariupol. Die rolprent gee ‘n ontstellende blik op die eerste drie weke van Rusland se inval in Oekraïne deur die oë van Associated Press se plaaslike verslaggewers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….