Nuus 09:00
BULLETIN 1 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Soil of Africa sê die uitdagings in munisipaliteite beklemtoon die belangrikheid van etiese openbare verteenwoordigers
# ‘n Busvereniging vra die regering om onpadwaardige oorgrens-busoperateurs te verbied
# En: Australië verdedig sy verbod op sosiale media vir tieners ná ‘n studie toon meeste is steeds aanlyn
# Soil of Africa sê die uitdagings waarmee baie munisipaliteite worstel, beklemtoon hoe belangrik dit is om bekwame en etiese openbare verteenwoordigers te verkies. Die beweging se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê sterk munisipaliteite begin met verantwoordelike leierskap wat die behoeftes van gemeenskappe bo persoonlike of politieke belange stel. Hy steun die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, se standpunt dat die verbetering van munisipaliteite begin met die verkiesing van bevoegde raadslede wat hul grondwetlike verantwoordelikhede verstaan en verbind is tot deursigtige, verantwoordbare en mensgerigte staatsbestuur:
# Die African Unite Borders Bus Trucks Association vra die regering om onpadwaardige oorgrens-busoperateurs in Suid-Afrika te verbied. Dit volg na die busongeluk Donderdagaand waarin 12 mense dood en 66 beseer is op die N1-Noord in die Vrystaat. Die bestuurder van die bus en sleepwa, wat na Zimbabwe op pad was, het beheer oor die voertuig verloor waarna dit omgeslaan het. Die vereniging se voorsitter, Mukhwathi Phumudzo, vra die Padongelukkefonds om die name bekend te maak van oorgrens-busoperateurs wat deur die fonds bevoordeel word:
# Action Society sê hulle sal voortgaan om die saak teen adjunkpresident Paul Mashatile se agt BBP-beskermingsbeamptes te monitor nadat die verhoor tot Februarie volgende jaar uitgestel is. Die beskuldigdes, wat die Blouligmafia genoem word, staan tereg op aanklagte wat verband hou met die aanranding van motoriste op die N1-snelweg in Johannesburg in 2023, ‘n voorval wat wydverspreide openbare verontwaardiging veroorsaak het nadat dit op video vasgelê is. Juanita du Preez van die organisasie sê hulle sal die verrigtinge fyn dophou.
# Australië se regering het Saterdag sy verbod op sosiale media vir kinders jonger as 16 jaar verdedig. Dit volg nadat Australië se aanlyn veiligheidsowerheid bevind het meer as agt uit tien Australiese tieners gebruik steeds sosiale media nadat die beperkings ingestel is. Die studie dui ook aan ouers het minder bewus geword van hul kinders se aanlyn bedrywighede. Australië het die verbod in Desember ingestel te midde van kommer oor die uitwerking van sosiale media op kinders se geestes- en fisiese gesondheid. Die verbod, wat internasionaal noukeurig dopgehou word, het kritiek ontlok van verskeie sosialemediamaatskappye, hoofsaaklik in Amerika.
# Krieket: Volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi in Suider-Afrika sal ‘n driefase-formaat met 14 spanne volg. Die onderste drie lande sal ‘n rondomtalie-superreeks speel. Die wenner dring deur na die volgende rondte, waar twee groepe van ses ook in ‘n rondomtalie-formaat sal speel. Die top drie spanne in elk sal kwalifiseer vir die Super 7-fase vanwaar die top vier die halfeindronde haal. Wedstryde word in agt stadions in Suid-Afrika, drie in Zimbabwe en een in die Namibiese hoofstad Windhoek gespeel.
# En ten slotte: Traderbag dring aan Suid-Afrikaanse kleinhandelaars moet wegbeweeg van plastiek inkopiesakke. Hy waarsku verbruikers dra die groeiende finansiële en omgewingskoste. Declan Cherry van die maatskappy sê kopers betaal dikwels meer as die regeringsheffing sonder om te weet hoe die geld gebruik word, terwyl slegs ‘n klein persentasie plastieksakke herwin word. Cherry sê die oorskakeling na papiersakke kan die omgewingsimpak verminder en ondernemings kan help om voor te berei vir strenger regulasies en hoër koste:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….