Nuus 08:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum vind verdagte EFF-betalings
# Build One South Africa sê misdadigers in die land het roekeloos geword
# En, Kanada se eerste minister is bekommerd oor die toename in anti-Semitisme en Islamofobie in sy land
# AfriForum sê hy het afgekom op vervalste bewyse vir die betaling van regskoste van 316-duisend-rand deur die EFF. Die betaling spruit uit ‘n kostebevel in September in ʼn saak oor grondbesetting wat deur Standard Bank bevestig is en wat glo deur ʼn onbekende finansier gemaak is. Die organisasie se private vervolgingseenheid het ’n diepgaande ondersoek van stapel gestuur na vervalsing en bewerings van bedrog. ʼn Woordvoerder van AfriForum, Ernst van Zyl, sê hulle beoog om die identiteit van die geheime EFF-weldoener bekend te maak om lig te werp op moontlike strafregtelike bedrywighede:
Speel klankgreep: AFR ErnstOnDodgyPayments
# Build One South Africa sê misdadigers het roekeloos geword omdat hulle weet die polisiediens is onderbeman, onderbefonds en onvoldoende opgelei, met ‘n skrale kans dat hulle gevang sal word. Die mees onlangse data van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, toon dat vanaf 2021 net 27-persent van die land se inwoners aangedui het dat hulle die polisie vertrou, teenoor 47-persent twee dekades gelede. Die BOSA-leier, Mmusi Maimane, sê ondanks ‘n jaarlikse belastingbetalerbefondsde begroting van 117-miljard-rand vir polisiedienste, kry landsburgers nie behoorlike diens en beskerming nie.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê ‘n kontrakteur is aangestel om die plafon by die Leratong-hospitaal se teaterkompleks te vervang. ’n Gedeelte van die plafon in die ontvangsarea het Maandag onverwags ineengestort. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die hospitaal het onmiddellik gebeurlikheidsmaatreëls ge-implementeer om ononderbroke pasiëntsorg te verseker. Hy sê ‘n bepaling is gedoen van die omvang van die skade in die betrokke gedeelte en hulle het toe besluit om die teaterkompleks tydelik te sluit:
Speel klankgreep: ENG MotalataleonLeratong
# Die Kanadese eerste minister Justin Trudeau sê die huidige toename in anti-Semitisme en Islamofobie in die land is afskuwelik, kommerwekkend en onaanvaarbaar. Skote is onlangs by twee Joodse skole in Montreal afgevuur en botsings het tussen pro-Israeliese en pro-Palestynse studente by ’n universiteit in die stad uitgebreek. Die polisie in Montreal sê sedert verlede maand se Hamas-aanval op Israel, waarin duisend-400 mense dood is, is 73 haatmisdade en haatvoorvalle teen die Joodse gemeenskap en 17 teen die Arabies-Moslem-gemeenskap gerapporteer. Trudeau sê haat het geen plek in Kanada nie.
# Gholf: Die Amerikaner Max Homa maak tans sy debuut by die Nedbank-gholfuitdaagtoernooi en het goed begin deur gesamentlik voor te loop in die eerste ronde. Die wêreld se nommer agt het met ‘n ses onder-baansyfer 66 geopen, en deel ‘n voorsprong van een hou met Nicolai Højgaard, Dan Bradbury en Vincent Norrman. Homa hoop om sy vorm dié naweek voort te sit:
Speel klankgreep: ENG Max Homa
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-743-dollar-5-sent. Die prys van goud is een-duisend-957-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….