Nuus 08:00
BULLETIN 4 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi stel Advokaat Ntuthuzelo Vanara aan as waarnemende hoof van IDAC
# Die Mededingingskommissie wil winkelsentrums in townships en op die platteland ondersoek
# En JD Vance sê die VSA wil nie ‘n tydlyn vir die einde van die oorlog in Iran vasstel nie
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het advokaat Ntuthuzelo Vanara as waarnemende hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie aangestel totdat die pos gevul word. Hy neem die leisels oor na die bedanking van advokaat Andrea Johnson. Vanara is tans op bestuursvlak regsraadgewer van die Spesiale Ondersoekeenheid. Die ministerie sê Vanara is ‘n gevestigde regsgeleerde, bestuursleier en reguleerder met meer as 25 jaar progressiewe ondervinding in staatsinstellings, staatsondernemings, die Parlement en ander gereguleerde omgewings.
# Die Mededingingskommissie oorweeg marknavorsing oor inkopie- en winkelsentrums in oorwegend swart gemeenskappe en plattelandse woongebiede. In sy verslag oor ekonomiese projekte in die platteland en townships vir 2026, is bevind baie township-entrepreneurs wil in sentrums sake doen, maar word verhoed deur hoë huurgeld, ekslusiwiteitsklousules en eienaars wat voorkeur aan gevestigde name gee. Die waarde van die township-ekonomie word op sowat 900-miljard-rand per jaar bereken. Die kommissie se hoofekonoom, James Hodge, sê uitsluitende praktyke sluit in ongelyke aankoop-omstandighede en diskriminerende verskaffingsooreenkomste:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê ten spyte van aansienlike vordering, is daar steeds aanvraag vir plasing in spesiale skole in die provinsie. Tans wag 702 leerders op plasing by hierdie skole. Van hierdie leerders woon 419 skool by, terwyl 153 nie skoolgaan nie en hulp van hulpbron-sentrums ontvang. Nog 52 leerders is in spesiale sorgsentrums, terwyl 140 na verwagting in 2027 na spesiale skole sal gaan wat die Tegniese Beroep-leerplan aanbied. Maile sê hulle wil seker maak elke kind het, ten spyte van gestremdheid, toegang tot onderwys.
# Amerika se adjunkpresident, JD Vance, sê hulle gaan nie ‘n tydlyn stel vir die einde van die oorlog teen Iran nie. Hy sê dit hang van Teheran af wanneer die konflik, wat ses maande gelede begin het, gaan eindig. Die twee lande is weer besig met aanvalle op mekaar terwyl Iran beheer oor die Straat van Hormoes probeer behou. Vier mense, insluitend twee kinders, is volgens berigte dood in ʼn Amerikaanse aanval op ʼn troue in ʼn dorpie naby die seeweg. Vance sê daar is geen onderhandeling met Iran in die vooruitsig nie:
# Sokker: FIFA beskuldig die Europese sokkerliggaam, UEFA, van ʼn “smeerveldtog” teen sy president, Gianni Infantino. UEFA het in drie Amerikaanse howe regsake aanhangig gemaak en versoek dat bewyse gevind word van Infantino se mislukte plan om aandele in die Wêreldbeker en ander kompetisies aan privaat beleggers te verkoop. Hy beskuldig Infantino van strafregtelike wanbestuur. FIFA voer in hofdokumente aan dat UEFA se argument ʼn basiese fout en wetlike tekortkominge bevat. Hy sê UEFA tree op uit selfbelang om sy eie kompetisies te beskerm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-817-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-474-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….