Nuus 08:00
BULLETIN 18 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Steenhuisen sê die DA se reddingsplan is nie ‘n verbeeldingsvlug nie
# Alexei Navalny word met Nelson Mandela vergelyk
# En, rugby: Seges vir die Stormers en die Bulle in die Verenigde Rugby Kampioenskap
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê ánders as die meeste ander partye wat aan vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing deelneem, is die party se reddingsplan vir Suid-Afrika nie ‘n verbeeldingsvlug nie. Hy het ondersteuners tydens die party se manifesbekendstelling by die Uniegebou in Pretoria toegespreek. Steenhuisen sê dit is maklik vir partye met geen ervaring van regering om van verhoë af hulle lys van onmoontlike beloftes uit te lees wat hulle weet hulle nooit sal kan nakom nie:
Steenhuisen het by dieselfde geleentheid gesê vir die eerste keer in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis gaan die steun vir die ANC aansienlik minder as 50-persent wees. Volgens Steenhuisen is die ANC ‘n party in ‘n doodspiraal. Die party was reeds op sy knieë toe die voormalige president, Jacob Zuma, se uMkhonto weSizwe-party sy verskyning gemaak het. Hy het voorts gesê die MK-party verorber miljoene ANC-stemme en president Cyril Ramaphosa alleen is daarvoor te blameer:
# Westerse leiers het met uiterste verontwaardiging op die dood van die Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, gereageer. Sommige het die blaam direk op president Vladimir Putin geplaas na die 47-jarige aktivis Vrydag oorlede is terwyl hy ‘n 30-jaar-vonnis in ‘n strafkamp noord van die Arktiese sirkel uitgedien het. Navalny was een van Putin se sterkste kritici. Na wat berig word, beskou van sy ondersteuners hom as Rusland se Nelson Mandela. Volgens gevangenisowerhede het Navalny siek geword terwyl hy gaan stap het, maar sy familie sê sy gesondheid was voor sy dood goed.
# Rugby: Die Stormers het hulle segetog teen hulle Suid-Afrikaanse mededingers in die Verenigde Rugbykampioenskap voortgesit. Hulle het die Haaie gister met 25-21 op ‘n volgepakte Kingspark geklop. Die Stormers se oorheersing van plaaslike spanne het in 2021 begin. Die Bulle het in Johannesburg hulle tweede oorwinning teen die Leeus dié seisoen behaal. Die span van Pretoria het drie drieë in die tweede helfte aangeteken vir ‘n bonuspuntoorwinning na hulle teen rustyd met slegs 5-3 voor was.
# En op ‘n hartseer noot: Die voormalige veelsydige krieketspeler, Mike Procter, is in die ouderdom van 77 oorlede. Sy familie sê hy het gister na komplikasies tydens ‘n operasie gesterf. Procter het sewe toetse vir Suid-Afrika gespeel voor die land in 1970 weens apartheid uit internasionale krieket verban is. Hy het 14 seisoene die Engelse klub Gloucestershire verteenwoordig en later die Suid-Afrikaanse span na hulle terugkeer tot internasionale krieket afgerig. Procter was ook ‘n wedstrydskeidsregter van die Internasionale Krieketraad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….