Nuus 08:00
BULLETIN 31 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nomvula Mokonyane vra ANC-lede om die party se kandidaatlyste te aanvaar
# Feroz Khan is terug in die hospitaal, dae voor sy volgende verskyning voor Madlanga Kommissie
# En, Amerika en Iran skiet op mekaar vir die eerste keer sedert laat-Julie
# Die ANC se eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, moedig partylede aan om die kandidatelys vir die plaaslikeregeringsverkiesing in November te aanvaar. Sommige ANC-lede het gister hul ontevredenheid tydens die Vrystaatse manifes-bekendstelling getoon. Hulle beskuldig die party van verdeeldheid en het ongelukkigheid uitgespreek oor die keuse van kandidate in sekere wyke. Mokonyane sê organisatoriese dissipline is belangrik vir die party se sentralisme en beklemtoon die belangrikheid van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan:
# Die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, is volgens berigte weer in die hospitaal opgeneem, byna twee maande nadat hy op 28 Junie in Houghton, Johannesburg, gewond is. Dit kom op ‘n kritieke tydstip aangesien hy gedagvaar is om hierdie week voor die Madlanga-kommissie te verskyn. Kahn het ook onlangs ʼn Reël Drie-kennisgewing ontvang wat vereis dat hy bykomende vrae van die kommissie moet beantwoord. Die Madlanga-kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê hulle is nog nie amptelik ingelig oor Kahn se gesondheidstatus nie.
# Die vakbondfederasie, SAFTU, sê die regering kon nie daarin slaag om één van die tienduisend bykomende permanente arbeidsinspekteurs te werf nie. In Februarie het president Ramaphosa gesê die regering sal gedurende die jaar ‘n bykomende tienduisend arbeidsinspekteurs werf om arbeids- en immigrasiewette af te dwing en werkgewers se onwettige indiensnemingspraktyke aan te spreek. Asive Dyani van SAFTU sê ses maande later is nog nie een van die permanente inspekteurs gewerf nie:
# Amerikaanse magte het twee Iranse vuurpyllanseerders op Larak-eiland getref in ʼn poging om te keer dat Teheran nog seemyne in die Straat van Hormoes stel. Die Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps sê talle mense is in die aanval dood en gewond. Iran het wraak geneem met missiel- en hommeltuigaanvalle op twee Amerikaanse lugmagbasisse in Jordanië. Die aanvalle kom te midde van samesprekings tussen Iran en Oman oor ʼn voorgestelde skikking om die veiligheid van verkeer deur die Straat te herstel. Gister se aanval is die eerste Amerikaanse aanval op Iran sedert laat in Julie.
# Krieket: Die Proteas-snelbouler Lutho Sipmala neem nie langer deel aan die T20 Internasionale driehoekreeks in Namibië nie. Die 28-jarige het Vrydag tydens sy tweede boulbeurt in die eerste wedstryd teen die gashere sy linker-dyspier beseer. Hy het daarna Saterdag die tweede wedstryd teen Zimbabwe misgeloop. Die veelsydige Andile Simelane is as sy plaasvervanger aangewys. Sipmala is die tweede Suid-Afrikaner wat nie langer aan die driehoekreeks deelneem nie. Jason Smith is vroeër weens ‘n liesbesering onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-760-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-421-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….