Nuus 08:00
BULLETIN 30 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering is besig om die Suid-Afrikaners te identifiseer wat in die Nepal-ramp vasgevang is
# Die Mededingingskommissie verwelkom die aanstelling van nuwe adjunk-kommissarisse
# En rugby: ‘n Vasberade Bok-span maak die reeks gelyk
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is besig om die Suid-Afrikaners te identifiseer wat in die Nepalese vloedramp vasgevang is. Ramaphosa het die media gister tydens die ANC-verkiesingsveldtog in Orlando-Wes, Soweto ingelig. Ses Suid-Afrikaners word vermis na die oorstromings op die Nepal-Tibet-grens. Die president sê die regering verleen hulp deur die Suid-Afrikaanse ambassade:
Reddingsoperasies in Nepal is intussen hervat nadat dit vroeër gestaak is, met die owerhede wat spesialishulp soek te midde van ‘n stygende dodetal. Meer as 600 mense is dood en byna drie-duisend word steeds vermis in Nepal en Tibet, insluitend meer as 500 buitelandse burgers. Die bedreiging van verdere oorstromings bemoeilik egter die soektog. ‘n Meer wat gevorm is toe ‘n grondverskuiwing ‘n rivier stroomop geblokkeer het, het oorgeloop, hoewel die onmiddellike gevaar afgeneem het. Owerhede hou nou ‘n tweede, groter meer wat intussen gevorm het, noukeurig dop.
# Die Mededingingskommissie het die aanstelling van Bukhosibakhe Majenge en Tamara Mokoka as adjunk-kommissarisse van die Kommissie verwelkom, wat Dinsdag 1 September in werking tree. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die aanstellings aangekondig. ‘n Woordvoerder, Siyabulela Makunga, sê albei is institusioneel ontwikkelde leiers wie se loopbane oor baie jare deur die Kommissie gevorm is en ook gehelp het om dit te vorm. Hy sê hul aanstellings versterk die Kommissie se uitvoerende leierskap terwyl hy steeds mededinging bevorder en handhaaf, verbruikers beskerm en inklusiewe ekonomiese groei ondersteun:
# Die polisie in Mpumalanga ondersoek moordsake na die ontdekking van ses liggame van vermeende onwettige mynwerkers gister in Mashobote. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê die polisie het ‘n oproep ontvang van ‘n lid van die gemeenskap wat gesê het hy het liggame by ‘n berg in die gebied gesien. Hy sê polisielede van die Onwettige Mynbouspan is na die toneel gestuur:
# En ten slotte, rugbynuus:
# Suid-Afrika se oorwinning van 33-26 oor Nieu-Seeland in Kaapstad het die reeks van vier toetse gelyk gemaak met een-elk. Die Bokke het goed herstel ná verlede naweek se 33-16-nederlaag en was teen rustyd 24-14 voor, maar moes ‘n laat aanslag deur die All Blacks afweer. Siya Kolisi het na sy besering teruggekeer met ‘n drie, terwyl Cheslin Kolbe 18 punte aangeteken het. Ten spyte van drie drieë teenoor die All Blacks se vier, het die Bokke die wedstryd genoeg oorheers om ‘n oorwinning te verseker. Die derde toets is volgende week in Johannesburg.
# En, die Pumas is deur na die Curriebeker-halfeindronde na ‘n oorwinning van 52-26 oor die Cheetahs op die Mbombela-stadion. Die gashere het die kragmeting oorheers met agt drieë teenoor vier en met rustyd met 28-7 voorgeloop. Die Pumas het ‘n bonuspunt-oorwinning nodig gehad om hul plek in die laaste vier te verseker, en het dit oortuigend behaal ten spyte daarvan dat hulle ‘n deel van die wedstryd met 14 man gespeel het. Die Cheetahs, wat reeds ‘n tuishalfeindronde verseker het, het te veel hanteerfoute gemaak en in die lynstane gesukkel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….