Nuus 08:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 18 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering versoek burgers om hierdie naweek te registreer om te stem
# AfriForum dring aan op afwenteling van polisiemagte weens kommerwekkende misdaadstatistieke
# En, Melinda Gates lewer die Desmond Tutu-vredeslesing in Kaapstad
# Die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel doen ‘n beroep op alle stemgeregtigde kiesers om vir die komende nasionale en provinsiale verkiesing te registreer. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie bied vandag en môre sy eerste spesiale kiesersregistrasienaweek aan. Suid-Afrikaners van 16-jaar en ouer kan registreer, besonderhede laat bywerk of inligting nagaan by alle stemlokale van agtuur soggens tot vyfuur namiddag. Die Departement van Binnelandse Sake sal stemgeregtigde kiesers bystaan om identiteitskaarte vir registrasies te bekom. Die regering doen ‘n beroep op burgers om ‘n demokratiese omgewing en ‘n vreedsame kiesersregistrasienaweek te handhaaf.
# AfriForum vra die afwenteling van polisiemagte na die ontstellende misdaadstatistieke wat deur die minister van Polisie, Bheki Cele, vrygestel is. Die organisasie kritiseer die leierskap van die Suid-Afrikaanse Polisiediens weens ‘n gebrek aan oplossings vir die daaglikse moorde en verwys na politieke inmenging, korrupsie en ontoereikende opleiding. ʼn Woordvoerder van AfriForum, Jacques Broodryk sê die organisasie bepleit die desentralisering van polisiemagte na provinsies en streke, vir unieke strategieë om uiteenlopende misdade te bekamp. Broodryk dring aan op gemeenskapsbetrokkenheid vir verbeterde openbare veiligheid:
Speel klankgreep: AFR BroodrykOnDevolution
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê korporatiewe belastingbetalers koester wantroue teenoor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens weens waargenome regeringskorrupsie. OUTA het ‘n sake-opname gedoen en openbare insette op sosiale media versoek, wat oorweldigende kritiek onthul het oor SAID as ‘n inkomste-invorderaar vir ‘n regering wat deur korrupsie ontsier word. Deelnemers het digitale stelsels voorgestel vir deursigtige inkomste-opsporing, leefstyloudits vir politici, ondersoeke na hoëprofiel-persone en maatreëls om belastingontduiking te bekamp. Die publiek vra verbeterde belastinginvordering van sektore wat vatbaar is vir korrupsie vir SAID om openbare vertroue te herwin.
# Rugby: Die Bulle het die topposisie op die Verenigde Rugby Kampioenskap punteleer gisteraand verloor en afgeskuif na derde plek, weens swak dissipline wat hulle twee spelers laat verloor het in hulle laaste toerwedstryd teen die Skotse klub Edinburgh. Die kaptein, Marcell Coetzee, het in die 42ste minuut ‘n rooikaart gekry vir ‘n hoë kopduikslag, terwyl Cameron Hanekom toe ook van die veld afgestuur is omdat hy ‘n skrum laat ineenstort het. Sergeal Petersen is ook in die laaste minute van die wedstryd afgestuur. Edinburgh het met 31-23 gewen. Ulster is nou bo-aan die VRK-punteleer nadat hulle gisteraand in Belfast die Leeus met 24 -17 geklop het.
# En, om mee af te sluit: Die internasionale filantroop Melinda Gates het die ontslape aartsbiskop Desmond Tutu geloof as die verpersoonliking van vrede. Gates het die hoofrede gelewer by die 13de Desmond Tutu Internasionale Vredeslesing by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum. Die geleentheid, wat aangebied is deur die Desmond en Leah Tutu-stigting, het gesentreer rondom die tema ‘Ontsluit Vroue se Krag vir Vrede en Voorspoed.’ Die lesing het die merkwaardige verhale van vroue gevier wat deurslaggewende rolle in die anti-apartheidstryd gespeel het, en 90 impakvolle stories uitgelig:
Speel klankgreep: ENG-GateOnTutu
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….