Nuus 08:00
BULLETIN 1 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is gekant teen die ontbondeling van Eskom
# Suid-Afrika se entrepreneurskap-ekosisteem beklee die sewende laagste plek wêreldwyd
# En sokker: Magaia red Suid-Afrika met ‘n gelykmaker in die doodsnikke van die WAFCON-wedstryd
# Cosatu verwelkom die Kabinet se goedkeuring van verdere hervormings aan Eskom se struktuur en tariefstelsel. President Cyril Ramaphosa het die Fase Een-verslag van die Eskom-herstruktureringstaakspan goedgekeur, wat die weg baan vir die herstrukturering van Suid-Afrika se elektrisiteitsektor. Cosatu se woordvoerder Matthew Parks sê egter hy is gekant teen Eskom se ontbondeling omdat die vakverbond vrees dit kan tot privatisering lei en Eskom se vermoë benadeel om sy skuldverpligtinge na te kom, geld vir infrastruktuurontwikkeling te bekom en volhoubaar te bly:
# ‘n Nuwe verslag deur die Global Entrepreneurship Monitor dui daarop dat Suid-Afrika se entrepreneurs baie idees het, maar nie genoeg ondersteuning om dit in suksesvolle ondernemings te omskep nie. Die verslag, saamgestel deur die Stellenbosch Sakeskool, die Universiteit van Johannesburg, die Noordwes-Universiteit en die Agentskap vir Klein Ondernemingsontwikkeling en Finansiering, plaas Suid-Afrika se ondersteuningstelsel as die sewende laagste uit 56 lande wat bestudeer is. Natanya Meyer van die monitor doen ‘n beroep op eenvoudiger reëls om ondernemings te help groei:
# Die nuut aangestelde verkiesingsambassadeur van ActionSA, Ayanda Allie, sê sy sien uit na die volgende hoofstuk in haar politieke loopbaan. Die voormalige Build One South Africa-lid van die Gautengse wetgewer, wat verlede week uit die party geskors is oor beweerde onbetaalde tiendeheffings, het ‘n positiewe houding ingeneem tydens haar ActionSA-bekendstelling en haar voormalige party bedank vir die ervaring en geleentheid om te dien. Allie sê die ervaring het haar voorberei vir hierdie volgende stap:
# ‘n Aardbewing met ‘n sterkte van 4,7 het Vrydag die Campi Flegrei-gebied naby die suidelike Italiaanse stad Napels getref en kragonderbrekings, ontwrigtings van trein- en metrodienste, asook skade aan geboue veroorsaak. Die aardbewing se middelpunt was in die Campi Flegrei-gebied wes van Napels op ‘n diepte van sowat drie kilometer. Kleiner aardbewings kom algemeen voor in die gebied, maar sterker skokke het vrees laat ontstaan van ‘n herhaling van die seismiese krisis wat Campi Flegrei in die vroeë 1980’s getref het. Dit het destyds grootskaalse ontwrigtings veroorsaak en duisende mense moes hul huise ontruim.
# Sokker: Plaasvervanger Hildah Magaia het Vrydag in die nege minuut van ekstra tyd ‘n laat doel aangeteken en ‘n 2-2-gelykopuitslag vir Suid-Afrika teen die Ivoorkus in die Vroue-Afrika-bekertoernooi in Marokko verseker. Die Ivoorkus het rustyd met 2-0 voorgeloop in die Groep B-wedstryd danksy twee doele deur die 18-jarige Grace Sery. Thembi Kgatlana het die agterstand verklein halfpad deur die tweede helfte in Casablanca. Burkina Faso het Tanzanië vroeër Vrydag met 2-1 geklop. In die laaste Groep B-wedstryde Dinsdag speel die Ivoorkus teen Tanzanië, terwyl die voormalige kampioene, Suid-Afrika, teen Burkina Faso te staan kom.
# En rugby: ‘n Sterk groep van 26 Springbokke vertrek vandag na Argentinië vir volgende Saterdag se eenmalige toets teen die Pumas in Buenos Aires. Kaptein Siya Kolisi, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Lood de Jager, Eben Etzebeth en Morné van den Berg keer almal terug van beserings, terwyl ander spelers in die groep, die afgelope paar weke ‘n ligter werklas gehad het. Die res van die groep bly agter om voorbereidings vir die All Blacks se reeks voort te sit. Afrigter Rassie Erasmus sê Argentinië is ‘n gehalte span en hulle verwag ‘n reusestryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….