Nuus 08:00
BULLETIN 25 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bafana Bafana bereik die Wêreldbeker-uitklopfase vir die eerste keer
# Geordin Hill Lewis doen ‘n beroep op kalmte te midde van spanning oor onwettige immigrasie
# En duisende ongevalle word gevrees nadat opeenvolgende aardbewings Venezuela tref
# Sokker: Bafana Bafana het Wêreldbeker-geskiedenis gemaak toe hulle die laaste 32 gehaal het na ‘n 1-0 sege oor Suid-Korea in Monterrey, Mexiko. Thapelo Maseko se doel in die 63ste minuut was genoeg om Suid-Afrika tweede in Groep A te laat eindig ná die gashere, Mexiko, en outomaties vir die uitklopfase te kwalifiseer. Suid-Afrika moes hierdie wedstryd wen, want hulle het hul openingswedstryd teen Mexiko met 2-0 verloor en gelykop met een elk teen Tsjeggië geëindig. Bafana Bafana kon nie in 1998, 2002 en as gasheer in 2010 verder as die groepfase vorder nie.
# Die DA-leier Geordin Hill-Lewis vra kalmte te midde van toenemende spanning oor onwettige immigrasie. Hy sê die publiek se frustrasie moenie verander in haat, gepeupelreg of geweld nie. Dit kom in aanloop tot volgende week se beplande massabetoging teen onwettige immigrasie. Hill-Lewis sê Suid-Afrikaners moenie toelaat dat sekere politici of mense wat reg in eie hande neem, die probleme wat deur ʼn mislukte ekonomie veroorsaak word, gebruik om buitelanders sondebokke te maak en geweld teen hulle aan te hits vir hul eie agenda nie:
# In hierdie verband het die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad gesê hy verwerp oproepe om op 30 Junie vervoer op te skort of paaie te versper, maar erken landsburgers se grondwetlike reg om teen onwettige immigrante te betoog. Dit kom te midde van teen-immigrasie-organiseerders se planne om die strate in te vaar om teen ongedokumenteerde migrante in die land te betoog. SANTACO-president, Abnar Tsebe, sê hulle bestuurders en lede het die versekering gegee dat hulle komende Dinsdag sal werk en nie aan die betogings sal deelneem nie:
# Die onderburgemeester van Johannesburg, Loyiso Masuku, sê Eskom het onderneem om saam met City Power te werk om die invordering van betalings te verbeter, meters te balanseer en kragvermorsing te staak. City Power skuld te kragverskaffer 5,3-miljard-rand aan agterstallige skuld met 1,6-miljard-rand op sy huidige rekening. Eskom het gedreig om die krag na vier substasies, Fordsburg, Beyers Naudé, Crowthorne en Allandale af te skakel weens City Power se skuldlas. Masuku sê samesprekings met Eskom sal voortgaan en hulle is daartoe verbind om City Power met sy uitdagings te help.
# Twee kragtige aardbewings van 7,2 en 7,5 het Venezuela se hoofstad, Caracas, binne enkele sekondes na mekaar getref en geboue laat ineenstort. Noodwerkers probeer mense uit die puin en beskadigde geboue red, en waarsku inwoners om hul huise te verlaat en buite te wag weens moontlike naskokke. Die regering het regstreekse gasverbindings na sekere geboue as voorsorgmaatreël afgesny terwyl owerhede die beskadigde strukture ondersoek. Amerika se Geologiese Opname-sentrum sê groot ongevalle-syfers en omvattende skade is moontlik met ʼn 44-persent moontlikheid van meer as tien-duisend sterftes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-739-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-973-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….