Nuus 08:00
BULLETIN 24 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering neem nuwe reëls aan rondom ‘n ampsklag teen ‘n president
# ‘n Ekonoom waarsku oor ‘n moontlike korttermyn ekonomiese verlangsaming in Suid-Afrika
# En die Senaat keur ‘n resolusie goed om Amerikaanse militêre optrede teen Iran te staak
Die Konstitusionele Hof het in Mei beslis die Parlement se reëls oor artikel 89-ondersoeke om ‘n president in ʼn staat van beskuldiging te plaas, is ongeldig. Die hoogste hof het die Parlement opdrag gegee om sy raamwerk te herskryf en gewysigde reëls te aanvaar om seker te maak presidensiële aanspreeklikheid kan nie deur prosedurele stemme gekeer word nie. Die verslag se aanvaarding sal riglyne verskaf vir die ampsklagkomitee se werk, ten spyte van president Cyril Ramaphosa se dringende hofaansoek om die proses te keer.
# Die onafhanklike ekonoom, John Loos, sê Suid-Afrika se huishoudelike sektor toon vroeë tekens van ‘n afname, nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se toonaangewende sakesiklusaanwyser sy skerpste maandelikse daling sedert vroeg in 2023 aangeteken het. Die April-lesing het met 1,78-persent gedaal, terwyl groei op ‘n jaargrondslag ook van 5,8-persent in Maart tot 4,1-persent gedaal het. Loos voorspel groei in die bruto binnelandse produk van ongeveer een-persent vanjaar voor ‘n herstel volgende jaar:
# Die EFF sê die DA en ActionSA het die mense van Ekurhuleni verraai deur die ANC te help om ʼn onbefondsde begroting wat teen armes en inkontraktering is, te aanvaar. Die metro se 2026/2027-begroting van 71-miljard-rand is ná drie mislukte pogings aanvaar. Die EFF sê hy het teen die begroting gestem omdat dit nie verslegtende dienslewering, vervalle infrastruktuur en oorafhanklikheid van gekontrakteerde dienste in ag neem nie. Hy sê die ANC se herhaalde mislukking om sy eie begroting te aanvaar, wys die gevolge van regering deur arrogansie eerder as beraadslaging.
# Die Republikeins-beheerde Amerikaanse Senaat het die Iran Magte Resolusie goedgekeur, wat militêre optrede teen Teheran verbied tensy die Kongres goedkeuring verleen. Die resolusie is met 50 teen 48 stemme aanvaar met vier Republikeine wat teen hul party gestem het om die aanvaarding te ondersteun. Die resolusie het nie president Donald Trump se handtekening nodig nie. Die Demokratiese minderheidsleier, Chuck Schumer, sê hy glo Trump se optrede in Iran sal in geskiedenisboeke as een van Amerika se grootste buitelandse beleidsfoute beskryf word:
# Sokker: Cristiano Ronaldo het twee doele aangeteken in ‘n inspirerende oorwinning vir Portugal in Groep K toe hulle Oesbekistan met 5-0 in Houston geklop het. Hy is nou die eerste speler om by ses verskillende Wêreldbeker-toernooie ‘n doel aan te teken. In Boston het die toernooi se tweede laagste gekeurde span, Ghana, ‘n gelykopuitslag sonder enige doele teen Engeland afgedwing. Engeland bly bo-aan Groep L, maar moet nou wag vir hul wedstryd teen Panama om kwalifisering vir die uitklopfase te verseker. Kroasië het hul eerste oorwinning van die Wêreldbeker in Toronto behaal nadat plaasvervanger Ante Budimir ‘n doel teen Panama aangeteken het vir ‘n oorwinning van 1-0.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-548-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-59-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….