Nuus 08:00
BULLETIN 22 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa respekteer Thoko Didza se besluit om nie sy interdik teen te staan nie
# Die ANC veroordeel die moord op sy Nelson Mandelabaai-raadslid
# En die bemiddelaars, Katar en Pakistan, sê die VSA-Iran-gesprek was konstruktief
# President Cyril Ramaphosa sê hy respekteer die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, se besluit om nie sy dringende hofaansoek teen te staan om die ampsklagverrigtinge teen hom in die Parlement te stop nie. Die president het aansoek gedoen vir ‘n hofbevel om die werk van die Ampsklagkomitee te staak hangende ‘n hersiening van die verslag deur die onafhanklike artikel 89-paneel. Die aansoek sal volgende maand in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor word. Ramaphosa het beklemtoon dat die speaker onafhanklik moet optree sonder enige beïnvloeding:
# Die Openbare Beleggingskorporasie se raadsvoorsitter, adjunkminister van Finansies David Masondo, gaan die saak oor die Acupulco-beleggingsooreenkoms na die Spesiale Ondersoekeenheid verwys. Dit volg na ‘n regsoorsig van PwC se forensiese ondersoek na die transaksie. Die OBK het in 2013 sowat 333-miljoen-rand se befondsing aan Acapulco beskikbaar gestel om ʼn 25-persent aandeel in Lanseria Internasionale Lughawe te bekom. Acapulco het egter nie terugbetalings volgehou nie, wat tot skuld van sowat 630-miljoen-rand gelei het. Die korporasie sê die verwysing is ooreenkomstig Masondo se verbintenis tot aanspreekliheid, gevolgebestuur en die herwinning van staatsgeld waar dit wetlik regverdigbaar is.
# Die ANC het die moord op raadslid Sicelo Mleve van wyk 27 in Nelson Mandelabaai veroordeel. Hy is deur onbekende gewapende mans doodgeskiet tydens ‘n vergadering in sy kantoor in Zwide, Gqeberha, kort nadat kieserregistrasie Saterdag gesluit het. Mleve is die derde raadslid wat in die huidige administratiewe termyn in Nelson Mandelabaai vermoor is. Die ANC-streeksvoorsitter, Babalwa Lobishe, sê wetstoepassingsagentskappe moet alles moontlik doen om seker te maak dat Mleve se moordenaars in hegtenis geneem word:
# Die bemiddelaars, Pakistan en Katar, sê die samesprekings tussen Amerika en Iran in Switserland het in ʼn positiewe en opbouende atmosfeer plaasgevind. Die bemiddelaars sê in ʼn verklaring die partye het ingestem dat ʼn hoëvlak-komitee saamgestel word, wat politieke oorsig oor die mediasie sal hou. Washington en Teheran het ingestem tot ʼn sel om konflik in Libanon te verminder. Die bemiddelaars sê ʼn kommunikasie-kanaal is tussen die partye gevorm om voorvalle en swak kommunikasie te vermy sodat handelsvaartuie veilig deur die Straat van Hormoes kan geweeg.
# Gholf: Die Amerikaner Wyndham Clark het sy tweede Amerikaanse Ope-titel opgeraap met ʼn een-hou-oorwinning oor sy landgenoot, Sam Burns, by Shinnecock Hills in New York. Die 2023-kampioen het op vier-onder 73 klaargemaak. Tom Kim van Suid-Korea is derde met een-onder. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, is gelykop vierde in sy poging om ʼn loopbaan-Grand Slam te behaal. Clark, wat by verlede jaar se Amerikaanse Ope by die Oakmont-buiteklub beboet is nadat hy twee sluitkaste beskadig het toe hy nie die paal haal nie, sê hierdie oorwinning is sy verlossing:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-199-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-180-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….