Nuus 08:00
BULLETIN 13 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fitch verhoog Eskom se kredietgradering
# Die adjunkpresident vra waaksaamheid oor onwettige inisiasieskole
# En, Sokker: Kanada verdien eerste Wêreldbeker-punt
# Eskom het die graderingsagentskap Fitch se kredietopgradering verwelkom. Dit volg nadat Suid-Afrika se soewereine kredietgradering onlangs verbeter het. Fitch het Eskom se langtermyn-wanbetalingsgradering van B na B+ opgegradeer, met ‘n stabiele vooruitsig. Eskom sê die opgradering weerspieël die voortdurende operasionele verbeterings en sterk ondersteuning deur die regering. Die kragvoorsiener se woordvoerder Daphne Mokwena sê hulle fokus op die verbetering van finansiële bestendigheid en ondersteun energiesekerheid en ekonomiese groei:
Eskom sê intussen meer as 726-duisend kliënte word nie meer deur lasvermindering geraak nie, wat 43-persent van die huishoudings verteenwoordig waarop hy hom toespits ingevolge sy uitskakelingsprogram. Die nutsmaatskappy sê lasvermindering is in die Noord- en Wes-Kaap geheel en al beëindig, terwyl pogings voortduur om dit landwyd te beëindig deur die installering van slimmeters en die opgradering van infrastruktuur. Die woordvoerder van Eskom, Daphne Mokwena, sê onwettige verbindings en peutery met meters bly egter groot uitdagings:
# Adjunkpresident Paul Mashatile vra tradisionele leiers en gemeenskappe om waaksaam te bly teen onwettige inisiasieskole voor die winter-inisiasieseisoen. Mashatile het in Limpopo tydens die tradisionele en Khoi-San-leiersbyeenkoms gepraat en waarsku ongeregistreerde skole en ongekwalifiseerde praktisyns hou ernstige gevare vir gesondheid en veiligheid in. Hy verwelkom ook pogings om toesig te versterk en veilige inisiasiepraktyke in die provinsie te bevorder:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se ekonomiese herstel het momentum verloor met sakevertroue tussen April en Junie wat skerp gedaal het. Die jongste sakevertroue-indeks toon dat maatskappy versigtiger is, met baie wat beleggings- en uitbreidingsplanne uitstel weens stygende brandstofpryse, wêreldwye onsekerheid en swakker aanvraag. Die verlangsaming weerspieël egter huiwering eerder as ‘n ineenstorting. Volgens die buro word sakevertroue ook beïnvloed deur plaaslike probleme soos swak dienslewering en swak infrastruktuur.
# Die President van Amerika, Donald Trump, sê die leier van die Tren de Aragua-bende in Venezuela, Hector Rusthenford Guerrero Flores, is in ‘n blitsaanval deur die Amerikaanse weermag dood. Flores het in Desember in ‘n federale hof in New York verskyn vir onder meer afpersing en steun aan terroriste in misdade vir langer as ‘n dekade. Die prokureur Jay Clayton het destyds gesê die bende is verantwoordelik vir talle voorvalle van geweld, afpersing en dwelmhandel in Noord- en Suid-Amerika en Europa. Venezuela het nog nie kommentaar gelewer op die operasie nie.
# Ene ten slotte sokker: Die Kanadese span kon nie Mexiko se goeie begin as mede-gashere van die 2026 FIFA Wêreldbeker naboots nie, maar het geskiedenis gemaak met hul eerste punt ooit in ‘n 1-1 gelykopuitslag teen groep B-mededingers Bosnië en Herzegovina Vrydagaand in Toronto. Bosnië en Herzegovina was op koers om ‘n oorwinning te behaal danksy Jovo Lukic se doel in die eerste helfte, maar die Kanadese het laat teruggeslaan met ‘n doel deur plaasvervanger Cyle Larin. Die spanne hervat hul Groep B-veldtogte volgende week, met Bosnië en Herzegovina wat teen Switserland te staan kom, en Kanada wat Katar takel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….