Nuus 08:00
BULLETIN 11 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee se stel reëls word teruggestuur vir verfyning
# OUTA ondersteun die Ouditeur-Generaal se ondersoek na studenteverblyf
# En krieket: Stokes en Atkinson is weggelaat uit die Engelse span vir die tweede toets teen Nieu-Seeland
# Die Nasionale Vergadering se Reëlskomitee het die reëls wat die werk van die Ampsklagkomitee moet lei, teruggestuur om verfyn te word. Komiteelede het bevraagteken of ‘n president slegs vir regstreekse optrede in ʼn staat van beskuldiging geplaas kan word, of ook vir indirekte optrede. Hulle verskil ook oor die kwessie of slegs sekere parlementslede mag kwalifiseer om in die komitee te dien. Mzwanele Manyi van die MK-party sê grondwetlike aanspreeklikheid kan nie beperk word tot die president se fisiese gedrag nie:
# OUTA sê die ouditeur-generaal se inspeksie van studenteverblyf wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente befonds word, moet nie net probleme identifiseer nie, maar ook gebruik word om toesig te versterk en die stelsel te verbeter. Die organisasie sê studenteverblyf moet behoorlik gekeur word, veilig wees en ten volle aan regulasies voldoen voordat studente geplaas word en openbare fondse uitbetaal word. Rudie Heyneke van OUTA sê die bevindinge behoort te help om gapings in akkreditasie- en verifikasieprosesse te sluit:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het aanbeveel dat die Makana plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap se raad ontbind en ʼn regsgeding ingestel word teen burgemeester Yandiswa Vara en haar leierskap. Dit volg nadat die kommissie ʼn verdoemende verslag vrygestel het oor die munisipaliteit se water- en sanitasiekrisis. Hy sê sistemiese en strukturele mislukkings skend inwoners se grondwetlike reg op waardigheid. Henk Boshoff van die Menseregtekommissie sê tussen 2023 en 2026 het hulle meer as 30 klagtes oor mislukte dienslewering van inwoners ontvang:
# Amerika het vir die tweede agtereenvolgende dag met nuwe aanvalle op Iran begin nadat president Donald Trump gewaarsku het aanvalle gaan hervat word weens stadige vordering met onderhandelinge om die oorlog te beëindig. Die Amerikaanse opperbevel sê Iranse militêre waarnemingstelsels en kommunikasiestelsels, asook lugafweerterreine was die teikens. In antwoord hierop sê Iran se Islamitiese Revolusionêre Wagkorps sy lugmag en vlooteenhede het Amerikaanse teikens in Bahrein en Koeweit aangeval en skepe in die Straat van Hormoes getref.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, en snelbouler Gus Atkinson is nie ingesluit by die span vir die tweede toets teen Nieu-Seeland nie. Hulle word ondersoek nadat hulle blykbaar span-protokolle verbreek het. Hulle het die span se middernag-klokreël verbreek toe hulle Maandag in die vroeë oggendure by ʼn nagklub in ʼn onderonsie met ʼn Saracens-speler betrokke was. Snelbouler Jofra Archer en kolwer Jordan Cox is by die span ingesluit. Joe Root sal as kaptein waarneem in die toets wat Woensdag by die Oval begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-37-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-61-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….