Nuus 08:00
BULLETIN 8 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula beklemtoon dat Suid-Afrika nie xenofobies is nie
# Minister Creecy verwelkom die besluit om die e-tolskuld af te skryf
# En Iran lanseer missiele na Israel vir die eerste keer sedert April
# Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die regering gevra om ‘n omvattende regsreaksie te formuleer om onwettige mobilisering te ondermyn, wat hy waarsku tot vergelding kan lei. Dit volg te midde van toenemende betogings die afgelope paar maande teen ongedokumenteerde buitelandse burgers regoor die land. Mbalula het gister tydens ‘n ANC-geleentheid in KwaZulu-Natal aan die media beklemtoon dat Suid-Afrika nie xenofobies is nie, en dat onwettige immigrasie ‘n wêreldwye probleem is:
Intussen het die DA-leier Geordin Hill-Lewis gesê die party sal elke wettige poging deur die regering ondersteun om die land se grense te beveilig en die gebroke stelsels te herstel wat onwettige migrasie ‘n bron van vrees en frustrasie gemaak het. Hy het president Cyril Ramaphosa se boodskap verwelkom dat Suid-Afrika se ekonomiese stryd nie deur buitelandse burgers veroorsaak word nie, maar deur mislukkings om die ekonomie te laat groei en werk te skep. Hill-Lewis sê burgers moet xenofobie verwerp en nooit toelaat dat woede oor swaarkry geweld teen kwesbare mense aanwakker nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, verwelkom die Kabinet se besluit om die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk se geskiedkundige skuld wat met die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek verband hou, te sluit. Die afskryf van uitstaande skuld gee uitvoering aan die regering se besluit in April 2024 om die e-tolskema te sluit. Padgebruikers wat wettig e-tol betaal het terwyl die stelsel bedryf is, sal egter nie vergoed word nie. Creecy sê die langverwagte besluit bring verligting en verlig die finansiële las op padgebruikers.
# Iran het gister vir die eerste keer sedert April missiele op Israel afgevuur en gewaarsku teen verdere optrede indien die regering van eerste minister Benjamin Netanyahu sy aanvalle op Libanon voortsit. Dit volg nadat Israel teikens van die Iran-gesteunde militante groep Hisbolla in die suide van Beiroet getref het. Iran het ook gedreig om nog ‘n belangrike seeweg in die Midde-Ooste, die Straat van Bab al-Mandab te blokkeer indien Israel sy aanvalle verhewig. Intussen sê die Israelse Weermag hy sal met vasberadenheid terugveg sodra die bevel gegee word.
# Motorsport: Die 19-jarige Mercedes-jaer Kimi Antonelli het weereens oorheers by ‘n chaotiese Monaco Grand Prix, en sy vyfde agtereenvolgende oorwinning hierdie seisoen behaal. Lewis Hamilton van Ferrari was tweede met Red Bull se Isack Hadjar van RedBull in die laaste plek op die podium. Antonelli is nou 66 punte voor Hamilton in die renjaerskampioenskap, met sy spanmaat George Russell tot derde nadat hy verskeie kere gestraf is en 13de geëindig het. Antonelli sê hy is tevrede met sy motor algehele prestasie die naweek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-75-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-307-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….