Nuus 08:00
BULLETIN 4 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Suid-Afrika verloor sy industriële voorsprong
# SKOOR gaan Collins Letsoalo strafregtelik aankla
# En Israel en Libanon stem in tot ‘n hernude skietstilstand
# Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrika se nywerheidsmededingendheid verswak steeds. Dit volg nadat nuwe bevindinge deur die Afrika-Ontwikkelingsbank toon Marokko het Suid-Afrika verlede jaar as Afrika se mees geïndustrialiseerde ekonomie verbygesteek. Die party blameer probleme soos kragonderbrekings, korrupsie, beleidsonsekerheid en swak ekonomiese bestuur vir die afname in vervaardiging en belegging. Jaco Mulder van die party waarsku Suid-Afrika kan sonder verandering verdere deïndustrialisering en langtermyn ekonomiese stilstand ervaar:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge, SKOOR, het besluit om ‘n strafregtelike klag in te dien teen die voormalige hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo. Dit volg op sy versuim om voor die komitee te verskyn nadat hy in November verlede jaar gedagvaar is. Die komitee het Letsoalo se verskyning geëis in verband met wanbestuur, wanadministrasie en finansiële wanbestuur tydens sy termyn by die fonds. Die komiteevoorsitter, Songezo Zibi, sê hy gaan aan die Parlement se sekretaris skryf wat ʼn klag teen Letsoalo sal indien.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, het die moord op ʼn 18-jarige graad 10-leerder van die Mokgome Secondary School in Braamfischerville, Soweto, veroordeel. Volgens voorlopige ondersoeke is die tiener, wat tydens die moord nie by die skool was nie, deur onbekende persone met ʼn panga aangeval omdat hy blykbaar gesteelde goedere gehad het. Die slagoffer is in die Dobsonville-kliniek dood. Maile sê geweld teen kinders is ʼn belediging vir die samelewing en kan nie aanvaar word nie:
# Israel en Libanon het ooreengekom om ʼn hernude skietstilstand in te stel wat onder meer vereis dat alle aanvalle deur die Iran-ondersteunde Hisbolla-groep gestaak word. Die ooreenkoms volg nadat minstens nege mense gister in Israelse aanvalle in die suide van Libanon gesterf het, en Hisbolla vuurpyle op die noorde van Israel afgevuur het. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê hulle hoop om ʼn plan van aksie in te stel vir veiligheid in Libanon, maar onafhanklik van Hisbolla:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is in die Franse Ope se kwarteindrondte uitgeskakel. Die Rus, Diana Shnaider, het haar verslaan en deurgedring na haar eerste Grand Slam-halfeindstryd. Shnaider kom teen die Poolse kwalifiseerder, Maja Chwalinska, te staan wat met Anna Kalinskaya van Rusland afgereken het. In die mansafdeling het die Italianer, Matteo Berrettini, weens ʼn besering in die tweede stel van sy kwarteindstryd teen sy landgenoot, Matteo Arnaldi, onttrek. Nog ʼn Italianer, Flavio Cobolli, het sy eerste Grand Slam-halfeindrondte bereik nadat hy die Kanadees, Felix Auger-Aliassime, geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-909-dollar. Die prys van goud ivier-duisend-464-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….