Nuus 08:00
BULLETIN 3 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile bevestig verbintenisse van Indiese sakeleiers om beleggings uit te brei
# Mmusi Maimane doen ‘n beroep op die regering van nasionale eenheid om op doelbewuste optrede te fokus
# En die VSA en Iran val mekaar opnuut wedersyds aan
# Adjunkpresident Paul Mashatile beskryf die eerste deel van sy werksbesoek aan Indië as hoogs produktief en sê dit het gehelp om die strategiese vennootskap tussen die twee lande te versterk. Hy het hoëvlak-samesprekings gevoer met Indië se president, Droupadi Murmu, en groot maatskappye in sektore soos energie, water, infrastruktuur en landbou. Mashatile sê hulle kon daarin slaag om Indiese sakeleiers te oortuig om beleggings in belangrike sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie uit te brei:
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, sê die sukkelende ekonomie, hoë werkloosheid en basiese waardigheid wat onbekostigbaar geword het, noodsaak ‘n president wat die regering lei met ‘n spesifieke doel om hierdie krisisse op te los. Hy sê ongelukkig is president Cryil Ramaphosa vasgevang in die Phala Phala-omstredenheid. Maimane het gister in die Nasionale Vergadering gesê die regering van nasionale eenheid moet weg beweeg van die probleme wat sy aandag aflei en op doelbewuste optrede fokus:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy gaan die bedrogsaak teen die voormalige waarnemende hoof van die Johannesburgse maatskappy vir maatskaplike behuising, Themba Mathibe, weer aanhangig maak. Dit volg nadat die Alexandra-landdroshof die saak gister van die rol geskrap het. Die saak hou verband met die ontdekking van 321-duisend-rand by Mathibe se woning tydens ‘n deursoek-en-beslagleggingsoperasie in ʼn voortgesette korrupsie-ondersoek na sy termyn by JOSHCO. Die NVG-woordvoerder, Magaboke Mohlatlole, sê hulle skakel met die polisie om uitstaande ondersoeke na hierdie saak te bespoedig:
# Amerika se leër sê hy het uit selfverdediging aanvalle uitgevoer op Iran se Qeshm-eiland ná Teheran se pogings om aanvalle reg oor die Midde-Ooste uit te voer. Hy het ook ʼn leë olietenkskip op pad na ʼn Iranse hawe buite aksie gestel toe dit deur Amerika se blokkade van die Straat van Hormoes wou breek. Iran se Islamitiese Revolusionêre Wagkorps sê hy het uit wraak missiele afgevuur op Amerika se Vyfde Vloot-hoofkwartier in Bahrein en twee lugmagbasisse wat Amerikaanse magte in Koeweit gebruik. Die jongste geweld belemmer pogings om ʼn nuwe skietstilstandooreenkoms te bereik.
# Tennis: Die 2024-finalis, Alexander Zverev, is deur na die Franse Ope se halfeindrondte en hoop steeds op ʼn eerste Grand Slam-titel. Die tweede gekeurde Duitser het die 19-jarige Spanjaard, Rafael Jodar, verslaan. Zverev kom nou teen die Tsjeg, Jakub Mensik, te staan wat met die Brasiliaanse tiener, Joao Fonseca, afgereken het. In die vroue-afdeling het Marta Kostyuk haar landgenoot, Elina Svitolina, geklop en die eerste Oekraïnse vrou in die Ope-era geword wat die enkelspel-halfeindrondte by Roland Garros bereik. Sy en die Russiese tiener, Mirra Andreeva, spook sake uit nadat laasgenoemde die Roemeen, Sorana Cirstea, afgeransel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-155-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-483-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….