Nuus 08:00
BULLETIN 1 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konferensie van Linkse Organisasies wil omvattende ekonomiese hervormings bewerkstellig
# Die Madlanga-kommissie hervat met generaal-majoor Lesetja Senona op die getuiebank
# En Donald Trump soek volgens berigte veranderinge aan die vredesooreenkoms tussen die VSA en Iran
# Die Konferensie van Linkse Organisasies het gevra vir ingrypende ekonomiese hervormings, insluitend die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en ‘n fundamentele hersiening van sy mandaat, eienaarskap en bestuur. Meer as 300 afgevaardigdes van politieke partye, burgerlike samelewingsorganisasies en jeug- en vroue-instellings het die konferensie in Boksburg aan die Oos-Rand van Gauteng die naweek bygewoon. Die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Solly Mapaila, sê hulle het uitkontraktering en arbeidsmakelary, wat instrumente van die kapitalistiese mag is, sterk veroordeel:
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek is gereed om verhore te hervat, met die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Lesetja Senona, wat na verwagting sy getuienis sal voortsit. Senona was in die kruisvuur oor bewerings rondom georganiseerde misdaadsyfers, interne polisiegedrag en die diefstal van kokaïen uit ‘n Valke-fasiliteit in Port Shepstone. Sy terugkeer volg nadat die verhoor uitgestel is oor nuwe bewerings tydens die getuienis van generaal-majoor Hendrik Flynn van die Valke. Die kommissie ondersoek bewerings van korrupsie, misdaad en politieke inmenging binne die strafregstelsel.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat ‘n dringende hofaansoek wat ingedien is om die uitvoering van lasbriewe vir inhegtenisneming te stop in die saak van die afpersingsbeskuldigde taxibaas, Madoda Johannes Sibanyoni, en sy medebeskuldigde, formeel teruggetrek is. Aanklaers het ‘n lasbrief van J50 vir inhegtenisneming verkry nadat hulle die saak, wat verlede maand deur die Kwaggafontein-landdroshof van die rol geskrap is, weer geregistreer het. NVG-woordvoerder Kaizer Kganyago het aan Newzroom Afrika gesê dat die afpersingsaak nou kan voortgaan:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het volgens berigte versoek dat verskeie veranderings aan die voorgestelde vredesooreenkoms tussen die VSA en Iran aangebring word. Volgens berigte hou die veranderinge verband met strenger taalgebruik rondom Iran se kernverbintenisse en sy belofte om die Straat van Hormuz te heropen. Dit volg ‘n week na Trump verklaar het die ooreenkoms is grotendeels gefinaliseer. Iran se hoofonderhandelaar, Mohammad Bagher Ghalibaf, sê geen ooreenkoms met die VSA sal goedgekeur word totdat Teheran seker is dat die regte van die Iranse volk verseker is nie.
# Krieket: Die Royal Challengers Bengaluru het die Gujarat Titans met vyf paaltjies in Ahmedabad geklop om slegs die derde span ooit te word wat hulle Indiese Premierliga-titel suksesvol kon verdedig. Ondanks Washington Sundar se onoorwonne 50 is Gujarat tot 155 vir agt beperk. Virat Kohli het in antwoord hierop ‘n onoorwonne 75 van 42 balle gemoker en ‘n kritieke vennootskap van 62 met Venkatesh Iyer gedeel en RCB kon toe die teiken haal met 12 balle oor. Kohli sê hulle was die beste span in die kompetisie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-774-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-516-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….