Nuus 08:00
BULLETIN 31 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie wys die verlenging van die Madlanga-kommissie van die hand weens koste
# Minister Steenhuisen lê klem op die behoefte aan groter streek-voedselsekerheid
# En die Bulle en die Stormers is albei deur na die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die Presidensie sê daar is geen planne om die Madlanga-kommissie te verleng ná sy huidige sperdatum nie, weens die koste wat daaraan verbonde is. Woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, het aan Newzroom Afrika gesê president Cyril Ramaphosa is tevrede met die kommissie se vordering en die stappe wat gedoen word teen individue wat betrek is. Die kommissie het Vrydag sy tweede tussentydse verslag ingedien, met die finale verslag wat einde Augustus verwag word. Die kommissie hervat môre:
# Die hoofsweep van die MK-party se Nasionale Vergadering, Mmabatho Mokoena-Zondi, sal na verwagting volgende week vertoë rig ná haar inhegtenisneming op aanklagte van bedrog. Mokoena-Zondi het in die Kaapstadse Landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde aftrekking van 233-duisend-rand van parlementêre personeelsalarisse om regskoste vir partyleier Jacob Zuma te befonds. Sy is op borgtog van 30-duisend-rand vrygelaat. Die party se woordvoerder, Sifiso Mahlangu, het aan SABC News gesê interne raadpleging is aan die gang:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het ‘n beroep gedoen vir sterker streeksamewerking om voedselsekerheid en landbouveerkragtigheid in Suider-Afrika te verbeter. Steenhuisen het tydens ‘n SAOG-ministersvergadering in Victoria-waterval, Zimbabwe, gewaarsku 58-miljoen mense in die streek staar steeds ongekende voedselonsekerheid in die gesig ondanks beter oeste. Die vergadering het gefokus op die bevordering van landbouproduksie, klimaatveerkragtigheid, visseryontwikkeling en volhoubare ekonomiese groei regoor die streek. Hy het gepleit vir beter gekoördineerde kunsmisregulasies en sterker optrede teen uitbrekings van bek-en-klouseer.
# Die waarnemende polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Phumelele Makoba, sê wetstoepassingsbeamptes is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag voor die beplande immigrasiebetoging op 30 Junie. Makoba het gewaarsku padversperrings, openbare geweld en die vernietiging van eiendom sal nie geduld word nie, met die polisie wat gereed is om beslissend op te tree. Sy het lede van die publiek gewaarsku teen die uitvoering van onwettige identiteitskontroles en beklemtoon immigrasie-afdwinging bly die verantwoordelikheid van die polisie en die Departement van Binnelandse Sake:
# Rugby: Die Bulle en die Stormers het gister albei na die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap deurgedring, maar die Leeus is uitgeskakel. Die Bulle het Munster met 45-14 in Pretoria oorweldig, terwyl die Stormers Cardiff met 44-21 in Kaapstad geklop het. Die Leeus moes egter met ‘n nederlaag van 59-10 die knie buig voor Leinster in Dublin. Die Bulle en die Stormers het albei wegwedstryde in volgende Saterdag se halfeindronde. Die Stormers ontmoet Leinster in Ierland, terwyl die Bulle die Glasgow Warriors in Skotland pak.
# En ten slotte sokker: Bafana Bafana se voorbereidings vir die 2026 FIFA Wêreldbeker het vasgehaak nadat visumvertragings die span gedwing het om sy vertrek na Mexiko uit te stel. Volgens berigte wag verskeie spelers op goedkeuring nadat administratiewe uitdagings gelei het tot die uitstel van die span se geskeduleerde vlug vanaf die OR Tambo Internasionale Lughawe. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging werk dringend aan ‘n oplossing vir die probleem. Suid-Afrika het ‘n beplande vriendskaplike wedstryd teen Jamaika op die kaarte voor hul Wêreldbekerveldtog op 11 Junie teen die toernooi-mede-gasheerland Mexiko begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….