Nuus 08:00
BULLETIN 28 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Altesaam 295 Ghanese is suksesvol gerepatrieer
# Minister Groenewald sê die oorbevolking van gevangenisse hou verband met druk in die strafregstelsel
# En tennis: Djokovic is deur na die derde ronde van die Franse Ope
# Die Grensbestuursowerheid sê 295 van die 300 Ghanese wat hul regering se aanbod van repatriasie aanvaar het, kon gister op ‘n huurvlug vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe uit Suid-Afrika vertrek. Dit volg na ʼn vlaag betogings teen onwettige immigrasie wat vrese van hernude xenofobiese geweld laat ontstaan het. BMA-woordvoerder Mmemme Mogotsi sê vyf Ghanese kon weens verskeie redes nie vertrek nie. Dit sluit in dat hulle nie geldige reisdokumente en ʼn geldige permit as asielsoeker gehad het nie:
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, sê oorbevolking in tronke word veroorsaak deur druk in die strafregstelsel. Dit sluit in vertragings om uitgestelde sake en hofverwysings te verwerk. Die departement het tans 107-duisend beddens beskikbaar en gevonnisde gevangenes beset minstens 106-duisend-280 daarvan. Groenewald sê die grootste probleem is die meer as 62-duisend aangehoudenes wie se sake uitgestel is en oorbevolkingsvlakke tot 58-persent opstoot. Die minister sê hulle is in kontak met die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling om waar moontlik alternatiewe vir tronkstraf te ondersoek.
# AfriForum sê die Johannesburgse Vereniging van Advokate moet deursigtig wees oor sy toelatingsproses vir pupilskap na bewerings van rassediskriminasie. Die organisasie het gedetailleerde inligting aangevra wat terugdateer na 2016, insluitend aansoekergetalle, toelatingsyfers en die ras- en geslagsverdeling van kandidate. Dit vra ook vir duidelikheid of rasgebaseerde kriteria, kwotas of teikens in keurings gebruik is. Ernst van Zyl van AfriForum sê deursigtigheid is nodig om vertroue in die regsberoep te handhaaf:
# Die Amerikaanse weermag het gister nuwe aanvalle in Iran uitgevoer op ʼn gebied by die Straat van Hormoes. Amptenare glo die terrein het ʼn bedreiging ingehou vir Amerikaanse magte en handelsverkeer in die seestraat, waarlangs ʼn vyfde van die wêreld se olie gewoonlik vervoer word. Talle Iranse hommeltuie is volgens berigte ook onderskep en afgeskiet. Hierdie hernude aanvalle, die tweede ʼn minder as ʼn week, kom terwyl Washington en Teheran voortgaan met onderhandelings om die konflik van drie maande in die Midde-Ooste te beëindig.
# Tennis: Die 24-malige kampioen, Novak Djokovic, het na die derde ronde van die Franse Ope deurgedring na ‘n oorwinning oor die Fransman Valentin Royer. Die Serwiër kom volgende teen Joao Fonseca van Brasilië se te staan wat die Kroaat Dino Prizmic verslaan het. Alexander Zverev van Duitsland het maklik met die Tsjeg Tomas Machac afgereken. In die vroueloting het Yuliia Starodubtseva van Oekraïne die wêreld se nommertwee-speler Elena Rybakina van Kazakhstan uitgeskakel. Iga Swiatek van Pole het die derde ronde bereik met ‘n oorwinning oor die Tsjeg Sara Bejlek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-641-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-383-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….