Nuus 08:00
BULLETIN 27 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika loop gevaar van ‘n resessie te midde van ‘n ingewikkelde globale omgewing
# Die ANC se Integriteitskommissie beveel aan dat Sisi Tolashe bedank as president van die vroueliga en as parlementslid
# En, die hoof van die Verenigde Nasies waarsku teen ‘n gevaarlike verlies aan respek vir internasionale reg
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê as ‘n netto olie-invoerder staar Suid-Afrika resessie-gevare en bedreigde nywerheidsmededinging in die gesig. Die oorlog tussen Amerika, Israel en Iran het verskeping deur die Straat van Hormoes, waar ʼn vyfde van die wêreld se olie- en energievoorraad gewoonlik vervoer word, grootliks beperk. Tau sê terwyl Suid-Afrika deur ʼn toenemend ingewikkelde wêreld-omgewing navigeer, bly die land op koers met ʼn regering wat daarop fokus om belegging en industrialisasie te stimuleer en onwettige handel te bekamp:
# Die ANC se Integriteitskommissie het volgens berigte aanbeveel dat voormalige minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisi Tolashe, as president van die ANC-vroueliga en as lid van die Parlement bedank. Dit volg nadat die kommissie haar op vier aanklagte skuldig bevind het. Tolashe is onlangs deur president Cyril Ramaphosa as minister afgedank te midde van verskeie bewerings van wangedrag, insluitend die versuim om twee sportnutsvoertuie wat aan die Vroueliga geskenk is, te verklaar. Sy is ook na die ANC se nasionale Tugkomitee verwys omdat sy die party in oneer gebring het.
# Die Congress of the People doen ‘n beroep op dringende optrede om Suid-Afrika se immigrasie- en grensbeheerstelsels te versterk. Die party voer aan poreuse grense, korrupsie en swak handhawing, dryf misdaad, werkverliese en plaas bykomende druk op openbare dienste. Pakes Dikgetsi van COPE eis strenger optrede teen werkgewers wat ongedokumenteerde werkers aanstel en vir vra sterker stelsels by die Departement van Binnelandse Sake. Dikgetsi spoor die regering aan om grensbeheer te verskerp:
Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku dat oorloë, wapen-wedrenne, klimaatskokke en die wegkalwing van internasionale reg geweldige druk plaas op die multilaterale stelsel wat ʼn derde wêreldoorlog moet voorkom. Hy het gister ʼn hoëvlak-debat in die Veiligheidsraad toegespreek te midde van groeiende kommer oor die toekoms van multi-lateralisme. Guterres waarsku ʼn gevaarlike verlies aan respek vir internasionale reg is aan die ontwikkel met basiese beginsels soos soewereiniteit en gebiedsintegriteit wat uitgedaag of geïgnoreer word:
# Krieket: Die verdedigende kampioene, Royal Challengers Bengaluru, is deur na die Indiese Premierliga-eindstryd nadat hulle die Gujarat Titans in Dharamsala met 92 lopies verslaan het. Kaptein Rajat Patidar het ʼn onoorwonne 93 van 33 balle behaal om RCB se telling 254 vir vyf te maak, die hoogste in IPL-uitspeelgeskiedenis. Daarna het Jacob Duffy drie paaltjies platgetrek en Gujarat was op 162 almal uit. Gujarat speel teen die wenner van vandag se bepalende kragmeting tussen die Sunrisers Hyderabad en die Rajasthan Royals vir ʼn tweede kans om Sondag se eindstryd te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-717-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-506-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….