Nuus 08:00
BULLETIN 26 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Binnelandse Sake waarsku dat onwettige immigrasie mensehandel aanspoor
# Die March and March-beweging wil hê ‘n noodtoestand moet afgekondig word oor onwettige immigrasie
# En die VSA voer “selfverdedigingsaanvalle” uit op suidelike Iran
# Die adjunkminister van Binnelandse Sake, Njabulo Nzuza, sê die regering erken dat die land ernstige uitdagings ondervind met onwettige immigrasie, insluitend mensehandel en die smokkel van goedere die land in. Nzuza en sy eweknie in Polisie, Polly Boshielo, sal aan die stuur wees van die taakspan van adjunkministers oor wetstoepassing tydens die toenemende protesoptrede oor die land heen teen onwettige immigrante. Nzuza waarsku dat misdadige optrede tydens die protes nie tot die destabilisering van die land mag lei nie:
# ‘n Burgerlike groep teen immigrasie, die March and March Movement, vra die regering om ʼn noodtoestand te verklaar om onwettige immigrasie in Suid-Afrika aan te spreek. Die groep beplan ʼn nasionale sluiting vir 30 Junie, wat ook hulle sperdatum is waarop onwettige immigrante die land moet verlaat. Die beweging se stigter, Jacinta Ngobese-Zuma, doen ʼn beroep op die regering om onder meer die verwerking van vlugtelingaansoeke te staak en met massa-uitsetting van ongedokumenteerde buitelanders te begin:
# Vrystaat Landbou sê die jongste bevel van die Hooggeregshof in Pretoria is ʼn bepalende keerpunt in die voortgesette stryd om Suid-Afrika se vee-bedryf teen bek-en-klouseer te beskerm. Die hof het bevind boere mag sonder die staat se toestemming entstof aankoop en toedien. Vrystaat Landbou se president, Francois Wilken, sê die uitspraak is ʼn reusestap vorentoe vir boere wat te lank aan hul lot oorgelaat is:
# Die Amerikaanse leër het volgens hom gister uit selfverdedigingsaanvalle uitgevoer op die suide van Iran. Sy teikens was Iranse missiel-lanseerpersele en bote rondom die Straat van Hormoes. Dit kom te midde van ʼn skietstilstand en voortgesette onderhandelings om die oorlog te beëindig. Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê daar is gedeeltelike vordering in onderhandelinge met Amerika, maar ʼn einde aan die konflik is nog nie binne bereik nie. Amerika se Sentrale Bevel sê die weermag sal voortgaan om Amerikaanse magte te verdedig en terselfdertyd selfbeheersing toepas tydens die skietstilstand.
# Tennis: Die Fransman Gael Monfils en Stan Wawrinka van Switserland het albei nederlae gely in die Franse Ope se eerste rondte. Dit was hul laaste verskyning in Parys aangesien beide aan die einde van die jaar uittree. Monfils het teen sy landgenoot, Hugo Gaston, verloor terwyl die 2015-kampioen, Wawrinka, teen die Nederlander, Jesper de Jong, die knie moes buig. In die vroueafdeling het die viermalige kampioen van Pole, Iga Swiatek, die Australiese promotorskeuse, Emerson Jones, huis toe gestuur. Elina Svitolina van Oekraïne en die Italianer, Jasmine Paolini, het ook oorwinnings behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-508-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-538-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….