Nuus 08:00
BULLETIN 23 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die afname in verskeie misdade
# Statistieke SA rapporteer gemengde neigings in siviele skuldsake vir Maart
# En krieket: Babar Azam is terug in die Pakistanse groep vir die eendagreeks teen Australië
# Cosatu verwelkom die afname in misdade soos verkragting, moord, rooftogte en inbrake. Dit volg nadat die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, gister die misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal aangekondig het. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, prys die polisie se harde werk. Hy sê die statistieke is bemoedigend, maar Suid-Afrikaners kan nie feesvier of op hul louere rus nie, want die misdaadvlakke bly onaanvaarbaar hoog:
Intussen sê die Forum for South Africa verklikkers is die ruggraat van die stryd teen korrupsie en hul moet beskerm word. Dit volg nadat die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, besluit het om die tydperk vir openbare kommentaar oor die Wet op Beskermde Bekendmakings te verleng. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê enige raamwerk wat ontwerp is om verklikkers te beskerm, moet sterk en geloofwaardig wees met die belangrikste aspek dat dit deur inklusiewe openbare insette gevorm word:
SAFTU verwelkom ook die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke. Moorde het met 9,5-persent afgeneem, verkragtings met 8,5-persent, en daar is ‘n afname van 4,6-persent in algehele kontakmisdade. Asive Dyani van SAFTU sê egter die vlakke van geweld bly katastrofies hoog. Sy sê Suid-Afrika teken steeds ongeveer 58 moorde per dag aan, met meer as 110 verkragtings daagliks:
# Statistieke Suid-Afrika sê siviele skuldsake het gemengde neigings tussen Januarie en Maart getoon. Die aantal siviele dagvaardings wat vir skuld uitgereik is, het op ‘n jaargrondslag effens gedaal met 0,2-persent teenoor verlede jaar, terwyl siviele vonnisse met 1,7-persent afgeneem het. Vhonani Kwinda van Statistieke SA sê egter die syfers dui op ‘n klein afname in die aantal sake, maar ‘n styging in die finansiële waarde van skuldverwante vonnisse:
# Padwedlope: Twee nuwelinge pak die naweek die Kaapstad-marathon aanpak. Die vermaaklikheidskunstenaar Rob van Vuuren en die koördineerder van die Amy-stigting, Giovanni Afrika, hoop om met hul deelname fondse in te samel vir jeugontwikkelingsprogramme. Die twee hardloop die 42,2-kilometer om kwesbare kinders in Kaapstad se townships en gemeenskappe op die Kaapse Vlakte te ondersteun, en hoop om genoeg in te samel om nasorgondersteuning en vaardigheidsopleiding vir jongmense te befonds, om lewens te verander en geleenthede te skep.
# En laastens krieket: Die sterkolwer, Babar Azam is terug in Pakistan se 16-man-groep vir die reeks van drie eendagwedstryde teen die wêreldkampioen, Australië, wat volgende week begin. Azam het die wegreeks in Maart teen Bangladesj weens ‘n fiksheidsprobleem misgeloop, maar het vroeër vandeesmaand sy terugkeer gevier met 588 lopies in die Pakistanse Superliga. Die snelbouler Shaheen Shah Afridi sal weer die span aanvoer, met Salman Ali Agha wat as onderkaptein aangewys is. Die eerste kragmeting is op 30 Mei in Rawalpindi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….