Nuus 08:00
BULLETIN 22 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ambassadeur Roelf Meyer sê die verbetering van handelsbetrekkinge is die dringendste kwessie
# Oscar Mabuyane sal die ANC se Oos-Kaapse provinsiale taakspan lei
# En meer as 400 Gaza-flottielje-aktiviste is deur Israel gedeporteer
# Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, sê hy is vriendelik by die Withuis ontvang en sien uit daarna om die land te verteenwoordig. Hy het gister sy geloofsbriewe aan president Donald Trump van Amerika oorhandig. Hy vervang Ebrahim Rasool na meer as ‘n jaar van spanning tussen Pretoria en Washington. Meyer het aan die SABC gesê Suid-Afrika se dringendste kwessie is om handelsbetrekkinge tussen die twee lande te verbeter:
# Die parlementêre subkomitee vir die Hersiening van Vergaderingreëls se regspan sê ʼn paar prosesse moet plaasvind voor die ampsklagkomitee se 31 lede kan begin werk. Die subkomitee sal die operasionele pad vir die komitee uitstippel. Die Konstitusionele Hof het bevind die Parlement het ongrondwetlik opgetree toe hy teen ʼn ampsklag-ondersoek en ʼn paneel-verslag gestem het, wat bevind het Ramaphosa het moontlik die Grondwet oortree. Die subkomitee se regsadviseur, Andrew Breitenbach, sê die ampsklagkomitee moet ʼn paar dinge in ag neem:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die Oos-Kaapse Provinsiale Taakspan aangekondig met Oscar Mabuyane as leier. Die nuwe span se taak is om die provinsie in die komende plaaslike regeringverkiesing na ‘n beslissende oorwinning te lei. Die adjunk-leier is Mlungisi Mvoko. Helen Sauls-August is die koördineerder met Nanziwe Rulashe as haar adjunk en die provinsiale fondsinsamelaar is Zolile Williams. Mbalula sê die nuwe taakspan is oorgehaal vir sy taak.
# Israel sê hy het al die buitelandse aktiviste wat aangehou is nadat hul Global Sumud-flottielje Maandag in internasionale water op pad na Gaza onderskep is, gedeporteer. Altesaam 422 aktiviste, insluitend ses Suid-Afrikaners, is gister op drie vliegtuie van die Turkse lugredery uit die suide van Israel gevlieg. Meer as 50 bote was deel van die Global Sumud-flottielje wat verlede Donderdag uit Turkye vertrek het met noodleniging aan boord. Israel se minister van Sekuriteit, Itamar Ben-Gvir, het onder internasionale kritiek deurgeloop na ʼn video waarin hy geboeide aktiviste wat kniel, uitgejou het.
# Krieket: Die Gujarat Titans het ʼn oortuigende oorwinning van 89 lopies oor die Chennai Super Kings behaal en hul kans versterk om onder die toptwee in die Indiese Premierliga te eindig. Die Titans se sege van 229 vir vier verbeter hul kanse op twee geleenthede om na die eindstryd deur te dring. Aanvangskolwer Sai Sudharsan spog met 84 lopies. Daarna het Mohammed Siraj en Kagiso Rabada elk drie paaltjies platgetrek en die Super Kings was op 140 almal uit. Die einde van hul veldtog is nou amptelik bevestig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-645-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-521-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….