Nuus 08:00
BULLETIN 21 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika is gereed om met Botswana saam te werk
# Eskom soek die steun van die Wêreldbank vir ‘n kernprogram
# En Panyaza Lesufi sal die nuwe ANC Gauteng Provinsiale Taakspan lei
# President Cyril Ramaphosa sê Botswana kan op Suid-Afrika reken as betroubare buurman, vriend en vennoot op sy pad van modernisering en na ‘n toekoms van volgehoue ontwikkeling en voorspoed. Hy het die opmerkings gisteraand by ‘n staatsbanket in Gaborone gemaak. Die president is op ‘n tweedaagse staatsbesoek aan die land waar hy medevoorsitter is van die sesde sessie van die Twee-nasies Kommissie. Ramaphosa sê te midde van geopolitieke spanning het Botswana ‘n ware vriend van Suid-Afrika gebly:
Botswana se president Duma Boko sê intussen dis tydig en noodsaaklik dat sy land en Suid-Afrika voortgaan om samewerking in alle sektore te versterk. Suid-Afrika is Botswana se grootste handelsvennoot en verantwoordelik vir meer as 50-persent van die land se invoere. Boko sê deur beter samewerking kan dié twee lande hulle posisioneer as enjins van streekshervorming en pilare van vooruitgang op die vasteland:
# Eskom voer verkennende gesprekke met die Wêreldbank oor die befondsing van ‘n multimiljard-dollar kernprogram. Die Koeberg Kernkragstasie naby Kaapstad is Afrika se enigste werkende kernkragstasie. Die kragverskaffer stel voor vier-duisend-800 megawatt van konvensionele waterdruk-reaktors en 400 megawatt van klein modulêre reaktors. Ten minste die helfte van die klein modulêre reaktors sal bestem wees vir die steenkool-na-kernkrag strategie. Die Wêreldbank sê die land se ontwikkelingsprioriteite en beleidsraamwerk wat ‘n reeks tegnologiese ontwikkelinge moontlik maak, lei sy betrokkenheid.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die nuwe Gautengse provinsiale taakspan bekendgemaak. Die taakspan se provinsiale sameroeper is Panyaza Lesufi; sy adjunk is Mandla Nkomfe; Sochayile Khanyile is die provinsiale koördineerder met sy adjunk Nomantu Nkomo-Ralehoko; en die provinsiale fondsinsamelaar is Tasneem Motara. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê die span sal die organisatoriese mandaat uitvoer, strukture versterk en leiding neem in voorbereiding vir die munisipale verkiesing:
# Krieket: Die driemalige kampioene, Kolkata Knight Riders, het Mumbai Indians met vier paaltjies verslaan om hul geringe hoop om die Indiese Premierliga se uitspeelronde te haal, lewend te hou. Mumbai, wat reeds uitgeskakel is, het 147 vir agt in hul 20 boulbeurte aangeteken. Daarna het Manish Pandey 45 van 33 balle behaal, Rovman Powell het 40 bygedra, en die Knight Riders het hul teiken gehaal met sewe balle oor. Die Knight Riders moet die Delhi Capitals in hul laaste wedstryd klop en hoop Rajasthan Royals en Punjab Kings verloor hulle wedstryde om die uitspeelronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-927-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-533-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….