Nuus 08:00
BULLETIN 18 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ‘n parlementêre ondersoek na Eskom se dieselkontrakte van R21-miljard
# Lebogang Maile sê die hofuitspraak oor kragonderbrekings versterk toegang tot onderwys
# En die WGO verklaar die Ebola-uitbreking in die DRK en Uganda tot ‘n openbare noodtoestand
# Die DA eis ‘n onmiddellike parlementêre ondersoek na Eskom se dieselverkrygingskwessie van 21-miljard rand. ‘n Ondersoek na die kontrak vir diesel vir Eskom se Oopsiklus-gasturbine-kragstasies het ongerymdhede en nie-nakoming van verkrygingsprosesse getoon. Die begunstigdes waaroor vrae ontstaan het, sluit in Severino Industries, wat ‘n kontrak van vier-miljard rand ontvang het ondanks die feit dat die 24-jarige bestuurder geen ervaring in die energiesektor het nie. Die DA sê hy sal nie toelaat dat Eskom die Nasionale Tesourie as ‘n private kitsbank gebruik vir fopmaatskappye wat in krisistye geskep word nie.
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, het intussen die model vir energiebesparing en prestasiekontraktering by 61 munisipaliteite ingestel. Die doel is om energiedoeltreffendsmaatreëls by munisipaliteite te handhaaf en uit te brei. Die Energie-doeltreffendheid Aanvraagbestuurstoelae aan munisipaliteite het vir die 2026/2027-boekjaar tot 100-miljoen-rand verhoog. Graham-Maré sê die toelaag is daarop gemik om munisipaliteite te ondersteun om energiedoeltreffende tegnologieë te aanvaar, elektrisiteitsverbruik te verminder en energiedoeltreffendheid te verbeter:
# Die LUR van Onderwys in Gauteng, Lebogang Maile, sê hy het die Stad Tshwane opdrag gegee om gehoor te gee aan die beslissing van die Hooggeregshof in Pretoria dat die kragtoevoer na skole wat vroeër afgesny is weens onbetaalde eiendomsheffings, herstel moet word. Kragtoevoer na skole mag ingevolge die uitspraak ook nie weer afgesny word nie. Skole skuld die metro 51,7-miljoen-rand. Maile sê die hofbeslissing is belangrik omdat onderwys nie ‘n voorreg is wat op finansiële vermoë berus nie:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda verklaar as noodsituasie vir openbare gesondheid wat internasionaal kommer wek. In die DRK se oostelike Ituri-provinsie is sowat 246 vermeende gevalle en 80 sterftes aangeteken. In Uganda is twee bevestigde gevalle, insluitend een sterfte, in die hoofstad Kampala aangemeld. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, waarsku daar is tans groot onsekerheid oor die ware getal mense wat besmet is, asook die uitbreking se geografiese verspreiding.
# Gholf: Aaron Rai van Engeland het die PGA-kampioenskap en daarmee sy eerste major-titel by die Aronimink-gholfklub in Pennsilvanië gewen. Die wêreld-nommer-44 het vyf onder 65 aangeteken en algeheel met nege onder geëindig, drie houe voor die Spanjaard en tweemalige major-kampioen, Jon Rahm, en die Amerikaner Alex Smalley, wat gesamentlik tweede is. Rai, wat die eerste Engelse PGA-kampioen in 107 jaar is, sê hy het met sy oorwinning ‘n klomp dinge aan homself bewys:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-919-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-535-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….