Nuus 08:00
BULLETIN 16 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie gaan sy besluit verduidelik oor Brown Mogotsi se mislukte onttrekkingsaanbod teen Michael Chaskalson
# Die Stad Kaapstad het reeds op meer as tien-duisend-700 stormverwante elektriese foute reageer # En rugby, Stormers word oorweldig deur ‘n vasbeslote Cardiff in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd
# Die Madlanga-kommissie sal volgende week omvattende redes gee vir die weiering van ‘n versoek vir die onttrekking van bewysleier Michael Chaskalson, wat deur die Noordwes-sakeman Brown Mogotsi aanhangig gemaak is. Die aansoek gaan oor betwiste WhatsApp-boodskappe wat na bewering verbind word met gewysigde of onvolledige rekords. Mogotsi het vooroordeel en onbehoorlike gedrag aangevoer, maar die kommissie het dit verwerp. Intussen het die polisie Mogotsi gister in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met die opgemaakte sluipmoordpoging in November verlede jaar asook dwarsboming van die gereg. Hy sal Maandag in die hof verskyn.
Intussen het die Brown Mogotsi ontken dat die geskorste polisieminister, Senzo Mchunu, geld van die sakeman Vusimuzi Matlala ontvang het. Tydens ondervraging deur getuienisleier Matthew Chaskalson het Mogotsi erken daar was gesprekke oor Matlala se moontlike bystand aan Mchunu, maar het volgehou dat hy nooit geld gevra het nie. Hy sê geen befondsingsbesluit is ooit geneem nie en daar is geen aanduiding dat Mchunu finansiële steun van Matlala of enige ander sakeman gevra of ontvang het nie:
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, is in die Pinetown-landdroshof in KwaZulu-Natal op borgtog van tienduisend rand vrygelaat. Adams staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling oor bewerings dat hy ingemeng het in die ondersoek na die moord op die voormalige ANC-jeugligaleier, Sindiso Magaqa, in 2017. Die hof het streng borgtogvoorwaardes opgelê, insluitend ‘n verbod op die kontak van getuies en gereelde aanmelding by die polisie. Die saak is tot 14 Augustus uitgestel.
# Die elektrisiteitspanne van die Stad Kaapstad het reeds op meer as tien-duisend-700 stormverwante diensversoeke reageer met meer as 16-duisend wat regoor die metro aangemeld is. Die stad sê hulpbronne is herlei na die gebiede wat die ergste geraakl is en vra inwoners om nie duplikaatversoeke in te dien nie aangesien dit reaksietye vertraag. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, het die publiek gewaarsku om weg te bly van beskadigde elektriese infrastruktuur en om enige gevaarlike situasies onmiddellik aan te meld:
# Die vakbond Solidariteit het ‘n formele klag by die Internasionale Arbeidsorganisasie ingedien en vra ingryping teen die Suid-Afrikaanse regering oor ‘n beweerde oortreding van ‘n ooreenkoms oor raswetgewing. Die vakbond voer aan die regering het versuim om ooreengekome maatreëls as regulasies toe te pas en te publiseer, wat minagting van die hof is. Dirk Hermann van Solidariteit sê die ooreenkoms vereis raswetgewing moet tydelik wees en vaardigheids- en maatskaplik-ekonomiese faktore moet eerder in ag geneem word.
# Rugby: ‘n Vasberade Cardiff-span het die besoekende Stormers gisteraand met ‘n 22-16 oorwinning in hul Verenigde Rugbykampioenskapsbotsing oorweldig. Ten spyte van ‘n vroeë drie deur Stormers-slot Adré Smith, het die gashere teruggeveg met drieë deur Jacob Beetham en Tom Bowen om hul laaste groepwedstryd van die seisoen te beklink. Ondanks die nederlaag, rond die Kaapstad-span die ligafase af met ‘n tweede plek op die punteleer met 60 punte. Hulle wag nou op die uitslae van die ander wedstryde vandag om hul finale uitspeelplek te bevestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….