Nuus 08:00
BULLETIN 14 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering sê die ampsklagkomitee van 31 lede is inklusief
# President Ramaphosa stel 12 regters aan, insluitend regter Aubrey Ledwaba as Regterpresident van Gauteng
# En, JD Vance sê Amerika maak vordering in vredesgesprekke met Iran
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê sy het nie net die beginsel van proporsionele verteenwoordiging in ag geneem by die saamstel van die ampsklagkomitee vir president Cyril Ramaphosa nie, maar ook die noodsaaklikheid van inklusiwiteit. Die komitee sal saamgestel word uit 31 lede van die 16 politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig word. Die ANC het die leeueaandeel met nege verteenwoordigers, gevolg deur die DA met vyf, die MK Party met drie, die EFF twee, met die oorblywende 12 plekke wat deur verteenwoordigers uit die kleiner partye gedeel sal word.
# Op sy beurt het die MK-party kommer uitgespreek oor die samestelling van die ampsklagkomitee se 31 lede. Die Konstitusionele Hof het die Parlement opdrag gegee om die komitee saam te stel sodat president Cyril Ramaphosa kan antwoorde verskaf oor die prima facie-bewyse oor buitelandse valuta wat in 2020 op sy plaas, Phala Phala, gesteel is. Visvin Reddy van die MK-party het aan die SABC gesê die komitee is saamgestel om die ANC en sy bondgenote in die regering van nasionale eenheid te bevoordeel:
# President Cyril Ramaphosa het 12 regters in howe reg oor Suid-Afrika aangestel. Die aanstellings sluit regter Aubrey Ledwaba as Regterpresident van die Gautengse Hooggeregshof en drie nuwe regters in die Appèlhof in. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal vyf nuwe regters kry en die Oos-Kaapse Hooggeregshof drie. Die Regterlike Dienskommissie het Ledwaba vir die pos aanbeveel nadat hy die enigste kandidaat was toe onderhoude verlede maand gevoer is. Ramaphosa sê die aanstellings sal verseker howe het die nodige kapasiteit om die reg toe te pas.
# Amerika se visepresident JD Vance sê onderhandelaars maak vordering met vredesamesprekings met Iran. Dit ten spyte daarvan dat president Donald Trump Teheran se jongste voorstel om die oorlog te beëindig, verwerp en as onaanvaarbaar beskryf het. Iran en Amerika het hul eerste regstreekse samesprekings in Islamabad, Pakistan, gevoer kort nadat ‘n skietstilstand van twee weke op 8 April afgekondig is. Die samesprekings het egter nie tot ʼn oplossing gelei nie. Vance sê die administrasie sal seker maak Iran kan nooit ʼn kernwapen vervaardig nie:
# Krieket: Die verdedigende kampioene, Royal Challengers Bengaluru, het die Kolkata Knight Riders met ses paaltjies verpletter en is boaan die Indiese Premierliga-punteleer. Angkrish Raghuvanshi se stewige 71 het gehelp om die Knight Riders se telling op 192 vir vier gebring. Virat Kohli ʼn onoorwonne 105 van 60 balle behaal en ʼn 92-lopievennootskap met Devdutt Padikkal om die tweede paaltjie aangeteken. RCB het die wenteiken gehaal met vyf balle oor. Die Knight Riders sal nou ná hierdie nederlaag ʼn reeks oorwinnings moet behaal om die uitspeelronde te bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-340-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-684-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….