Nuus 08:00
BULLETIN 12 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF gaan president Ramaphosa se hersieningsaansoek van die Artikel 89-verslag teenstaan
# Die DA sê die president se besluit om die Artikel 89-verslag op hersiening te neem mag nie aanspreeklikheid vertraag nie
# En, daar is toenemende oproepe dat die Britse eerste minister ’n tydraamwerk vir sy bedanking voorlê
# Die EFF sê president Cyril Ramaphosa se besluit om ‘n regshersieningsaansoek teen die Artikel 89-verslag oor die Phala Phala-saak in te dien, is opportunisties. Die Konstitusionele Hof het Vrydag die weg gebaan vir ʼn openbare ampsklag-verhoor oor die president se optrede in verband met geld wat op sy Phala Phala-plaas in Limpopo gesteel is. Sinawo Thambo van die EFF sê dis nie ʼn verrassing dat Ramaphosa elke politieke en regsmeganisme gebruik om aanspreeklikheid te vermy nie:
# Die DA sê intussen president Cyril Ramaphosa se besluit om die Artikel 89-verslag oor die Phala Phala-saak op hersiening te neem, moenie gebruik word om die Parlement se werk te vertraag nie. Die Konstitusionele Hof het bevind die Parlement het in Desember 2022 irrasioneel opgetree toe hy gekeer het dat die president se optrede na ʼn ampsklagkomitee verwys word. Die DA-leier Geordin Hill-Lewis sê Ramaphosa moet enige hersieningsaansoek spoedig indien:
# Die vervoervakbond, Untu, het ʼn dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verklaar en dreig om te begin staak. Dit volg na ʼn dooiepunt oor salarisse by die hawe-logistiekmaatskappy, South African Cargo Services. Untu eis ʼn salarisverhoging van 11,8-persent wat byna vier keer die inflasiekoers is, maar die maatskappy bied ʼn verhoging van 3,5-persent aan. Volgens die vakbond was SA Cargo Services uit die staanspoor arrogant, geheimsinnig en minagtend teenoor werkers.
# Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, hou vandag ʼn dringende kabinetsvergadering terwyl lede van sy regering vra dat hy ʼn tydlyn vir sy bedanking voorlê. Die Arbeidersparty het in verlede week se plaaslike verkiesing byna een-duisend raad-setels reg oor Engeland verloor, terwyl Reform UK groot vordering gemaak het. Die party het ook mag in Wallis verloor waar dit ʼn eeu lank oorheers het. Starmer het gister in ʼn toespraak beloof om dié wat in hom twyfel, verkeerd te bewys:
# Krieket: Die Delhi Capitals het die Punjab Kings met drie paaltjies geklop en bly daarmee in die wedloop vir ‘n plek in die Indiese Premierliga se uitspeelronde. Punjab se kaptein, Shreyas Iyer, het 59 nie uit nie aangeteken as deel van sy span se totaal van 210 vir vyf in hul 20 beurte. Axar Patel en David Miller het onderskeidelik 56 en 51 vir die Capitals aangeteken en ‘n vennootskap van 64 lopies om die vyfde paaltjie gedeel. Capitals het die teiken bereik met nog ‘n volle beurt oor. Dit was die Punjab’s se vierde agtereenvolgende nederlaag, en hulle is nou vierde op die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-209-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-727-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….