Nuus 08:00
BULLETIN 10 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party gee formeel kennis van voorneme om ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa in te dien
# Die Weerdiens reik ‘n Oranje vlak 8 waarskuwing uit vir ontwrigtende reën in die Wes-Kaap
# En rugby: Die Bulle wen teen die sukkelende Zebre Parma, maar die Leeus word in Dublin getem
# Die MK Pparty het in ‘n brief aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, formeel kennis gegee dat hy beplan om ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa in te dien, na aanleiding van die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala Phala‑saak. Woordvoerder Nhlamulo Ndhlela sê die party vra dat die mosie deur ‘n geheime stemming gehou word. Hy sê dit is om die onafhanklikheid en die integriteit van lede te beskerm en te verseker hulle kan vrylik en doeltreffend stem.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Oranje vlak 8 waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën in die Wes-Kaap van vandag tot Dinsdag. Weervoorspeller Lehlohonolo Thobela sê kort op die hakke van ‘n lang tydperk van gure weer weens ‘n afsnylaagdrukstelsel, sal ‘n sterk kouefront die Wes‑Kaap vanmiddag tref en daarna ooswaarts oor die suidelike dele van die land beweeg:
Intussen vra vra die Mobiliteitsdepartement in die provinsie alle padgebruikers om ekstra versigtig te wees gedurende hierdie tydperk en om onnodige reise waar moontlik te vermy. Die provinsiale woordvoerder van Verkeersbestuur, Maxine Bezuidenhout, sê sterk winde kan ook voertuigbeheer beïnvloed, en bestuurders moet te alle tye waaksaam bly. Sy sê voetgangers moet sigbaarheid verseker deur helder of weerkaatsende klere te dra:
# Die Padverkeerbestuurskorporasie het bevestig dat Suid-Afrika se slaagsyfer vir leerlinglisensietoetse van 68-persent tot 40-persent gedaal het sedert die bekendstelling van die gerekenariseerde leerlinglisensietoetsstelsel regoor die land. Woordvoerder Simon Zwane het aan News24 gesê die stelsel kies ewekansige vrae uit sy databasis vir elke leerder. Hy sê die toets is steeds soos voorheen in drie afdelings verdeel, maar daar is nou 64 vrae wat uit ‘n databasis van ongeveer een-duisend vrae getrek word.
# Rugby: Die Bulle het gister ‘n 54-19 oorwinning oor die sukkelende Italiaanse span Zebre Parma behaal, in hul Verenigde Rugby Kampioenskapswedstryd op Loftus Versfeld. Met die oorwinning verbeter hulle die moontlikheid om na volgende naweek se laaste ligawedstryd teen Benetton ‘n plek in die top-vier te verseker. Willie le Roux, Canan Moodie, Cheswill Jooste, Sergeal Petersen, Ruan Vermaak, Cameron Hanekom, Harold Vorster en Jeandre Rudolph het bygedra tot die Bulle se oes van agt drieë met. Willie le Roux wat sewe daarvan verdoel het. Zebre Parma se 19 punte het bestaan uit drie drieë en ‘n doelskop.
En in nog rugbynuus, ten spyte van genoeg moed en dapperheid, het die Leeus net nie genoeg gehad om ‘n top vier-plek in die kampioenskap te verseker nie. Hulle het Saterdag met 31-7 teen Leinster in Dublin verloor, nadat Leinster drie vinnige drieë in die laaste 10 minute van die wedstryd aangeteken het. Die uitslag het die Leeus nou tot vyfde op die punteleer laat terug val. In nog ‘n wedstryd het Connacht vir Munster met 26-7 geklop. Munster is nou sesde op die punteleer en kom volgende naweek teen die Leeus te staan in die laaste ronde van die kompetisie voor die uitspeelwedstryde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….