Nuus 08:00
BULLETIN 8 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is bemoedig deur die privaatsektor se beleggings in hernubare-energie
# Die Departement van Gesondheid monitor vier moontlike hantavirusgevalle in die Wes-Kaap
# En Olimpiese Spele: Die IOK hef alle beperkings op Belarussiese atlete op
# President Cyril Ramaphosa sê vir groter mededinging tussen Suid-Afrikaanse nywerhede is voortgesette vertroue in betroubare infrastruktuur in energie en logistiek nodig. Hy het gisteraand die hoofrede gelewer by die 30ste herdenking van die Suid 32 Hillside-smeltery in KwaZulu-Natal. Die Hillside Aluminiumsmelter het die afgelope tien jaar sowat 35-miljard-rand tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk bygedra. Ramaphosa het die privaatsketor se beleggings in die hernubare energiesektor verwelkom en gesê dit het gehelp met die bestendiging van elektrisiteitvoorsiening aan die nasionale netwerk:
# Die Departement van Gesondheid sê hy monitor vier kontakgevalle in die Wes-Kaap wat verbind word met die hantavirus-uitbreking aan boord van die passasierskip MV Hondius in die Atlantiese Oseaan. Sowat 150 passasiers en bemanning van 28 lande was aanvanklik aan boord, maar verskeie het verlede maand op die eiland St Helena afgeklim. Drie mense is dood, insluitend ‘n 69-jarige Hollandse vrou wat die virus opgedoen het. Woordvoerder, Foster Mohale, het aan News24 gesê een van die vier mense het simptome getoon, insluitend koors en ‘n seer keel.
# Die EFF in Gauteng sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se brief aan Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, ontbloot ‘n metro wat sonder dringende ingryping ernstige finansiële probleme en moontlike ineenstorting kan verwag. Die minister dreig om die metro se toelaag-befondsing te weerhou indien hy nie sy finansies regruk nie. Die EFF sê Johannesburg het ʼn onbefondsde Aanpassingsbegroting vir 2025/2026 goedgekeur ten spyte van waarskuwings oor mislukte inkomste-invordering, oorbesteding en kontantvloei-risiko’s. Die party sê ʼn geloofwaardige finansiële herstel- en bestendigingsplan moet onmiddellik aan die raad voorgelê word.
# Die Amerikaanse Internasionale Handelshof het teen president Donald Trump se jongste globale tarief van tien-persent vir almal beslis. Die hof het bevind die administrasie kon nie die tariewe regverdig volgens ʼn handelswet van 1974 wat as Artikel 122 bekend staan nie. Die beslissing is die jongste terugslag vir Trump se handelsbeleid nadat die Amerikaanse Hooggeregshof vroeër vanjaar bevind het die president kan nie tariewe instel onder nood- ekonomiese magte nie. Trump sê hulle sal waarskynlik appelleer:
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het alle beperkings op Belarussiese atlete opgehef. Belarussiese en Russiese atlete is uit die Olimpiese kompetisie geskors ná Moskou se inval in Oekraïne in 2022. Belarussiese atlete mag nou onder hul eie vlag en volkslied deelneem. Hulle mag ook deelneem aan alle kwalifiserende geleenthede wat later vanjaar begin voor die Los Angeles Spele in 2028. Die komitee se president, Kirsty Coventry, sê beperkings teen Rusland bly egter na die onlangse sanksies deur die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-613-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-726-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….