Nuus 08:00
BULLETIN 7 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê swart ekonomiese bemagtiging sal nie laat vaar word nie
# Die Johannesburgse burgemeester vergader met minister Godongwana oor die metro se haglike finansiële toestand
# En Israel val Beiroet aan vir die eerste keer sedert die skietstilstand
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê swart ekonomiese bemagtiging sal steeds die hefboom wees wat die regering gebruik om Suid-Afrikaners te bevry. Dit volg nadat Business Leadership South Africa gewaarsku het die departement se voorgestelde wysigings aan die B-BBEE-regulasies kan jare se nywerheidsontwikkeling ondermyn. Tau sê B-BBEE moet versterk en hersien word, maar sal nie laat vaar word nie. Hy sê ekonomiese bevryding is die maatreël van die land se vryheid:
# Die polisie het bevestig die leier van die National Coloured Congress Fadiel Adams laat gisteraand in Durban aangekom het maar hy is nie aangekla nie en word weens veiligheidsredes by die Westville Polisiestasie aangehou. Hy is Dinsdag in Kaapstad in hegtenis geneem vir beweerde inmenging in die ondersoek na die sluipmoord op die gewese sekretaris-generaal van die ANC Jeugliga Sindiso Magaqa in 2017. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Adams sal vandag in die Pinetown-landdroshof verskyn:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê hy sal binnekort met die minister van Finansies, Enoch Godongwana, vergader om kommer oor vermeende oortreding van begrotingregulasies te bespreek. Die minister waarsku dat Tesourie fondse gaan weerhou indien die metro nie sy finansies regruk nie. Godongwana het in ‘n brief aan die metro onthul dat Johannesburg sy krediteure 25,2-miljard-rand skuld terwyl hy net sowat vier-miljard-rand se kontant het. Dit laat ʼn tekort van meer as 21-miljard-rand. Morero sê daar is geen rede tot kommer nie:
# Israelse magte het Beiroet se suidelike voorstad bombardeer in die eerste aanval op die Libanese hoofstad sedert die begin van Amerika se skietstilstand met die gewapende groep Hezbolla verlede maand. Eerste minister Benjamin Netanyahu sê hy het die aanval, wat die bevelvoerder van die elite Radwan-mag in die visier gehad het, self goedgekeur. Hy sê die Radwan-terroriste val Israelse nedersettings aan en beseer soldate. Netanyahu het bygevoeg Israel se lang arm sal elke vyand en moordenaar bykom. Israelse aanvalle in Libanon het sedert 2 Maart twee-duisend-700 mense gedood.
# Krieket: Die Sunrisers Hyderabad is boaan die Indiese Premierliga-punteleer nadat hulle die Punjab Kings met 33 lopies verslaan het. Heinrich Klaasen het 69 van 43 balle gemoker om Sunrisers se telling op 235 vir vier te staan te bring in hul 20 boulbeurte. Daarna het Cooper Connolly ʼn onoorwonne 107 van 59 balle en sy eerste IPL-honderdtal behaal, maar Punjab is steeds tot 202 vir sewe beperk in hul derde agtereenvolgende nederlaag. Die top-vyf spanne word deur slegs twee punte geskei, met Chennai Super Kings in die sesde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-944-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-704-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….