Nuus 08:00
BULLETIN 6 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi verdedig die koste en uitvoerbaarheid van Nasionale Gesondheidsversekering
# Suid-Afrikaanse gesondheidskundiges gaan Brasilië besoek oor bek-en-klouseer
# En Solidariteit kritiseer Gauteng Onderwys oor Pretoriase skole wat in duisternis gedompel word
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, verwerp kommer oor die finansiële lewensvatbaarheid en instelling van Nasionale Gesondheidsversekering. Die Konstitusionele Hof hoor hierdie week ‘n saak aan om te bepaal of die openbare konsultasieproses voor die NGV-wet aanvaar is, grondwetlik voldoende was. Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers en die Wes-Kaapse regering het dit aanhangig gemaak. Motsoaledi sê die uitkoms van die saak is belangrik omdat Nasionale Gesondheidsversekering volgens hom universele toegang en gehaltesorg vir alle landsburgers verseker:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê ‘n span Suid-Afrikaanse dieregesondheidkundiges sal Brasilië later die maand besoek vir kennisuitruiling oor bek-en-klouseer, naspeuring en toesigmetodes. Hy sê hierdie vennootskap kan die weg baan vir ‘n voorgestelde Brasilië-Suid-Afrika Biosekuriteitskorridor, wat biosekuriteit as handelsversperring in ‘n brug vir ekonomiese groei sal omskep. Steenhuisen sê Suid-Afrika se strategie is nou gerig op die oorskakeling van ‘n reaktiewe toestand na ‘n vennootskapsgedrewe model wat wetenskaplike resultate en betroubare voorsieningskettings eerste stel.
# Solidariteit se Onderwysersnetwerk sê verskeie skole in Pretoria is sonder elektrisiteit gelaat weens wanbestuur deur die Gautengse Departement van Onderwys. Die netwerk voer aan skoolhoofde en beheerliggame word gedwing om noodmaatreëls in te stel om skole aan die gang te hou, met duisende leerders wat geraak word. Johan Botha van die netwerk sê die kragonderbrekings ontwrig onderrig en noodsaaklike skoolbedrywighede, insluitend digitale leer en sekuriteitstelsels:
# President Donald Trump sê “Projek Vryheid”, die vlootoperasie om kommersiële skepe deur die Straat van Hormoes te lei, sal vir ‘n kort tydperk onderbreek word. Hy sê dit is om te kyk of ‘n ooreenkoms tussen die VSA en Iran gefinaliseer kan word. In ‘n plasing op Truth Social het Trump beklemtoon die Amerikaanse blokkade van Iranse hawens sal van krag bly. Die Iranse staatsmedia het dit as ‘n oorwinning bestempel en gesê die onderbreking toon dat Trump onttrek het ná volgehoue mislukkings om die waterweg vir internasionale skeepvaart te heropen.
# Krieket: Die vyfmalige kampioene, Chennai Super Kings, het die Delhi Capitals met agt paaltjies afgeransel en hul hoop om die Indiese Premierliga-uitspeelronde te haal, lewend gehou. Tristan Stubbs en Sameer Rizvi het ʼn vennootskap van 65-lopies op die sesde paaltjie behaal om die Capitals se telling van 155 vir sewe te verseker. Daarna het Sanju Samson ʼn onoorwonne 87 van 52 balle behaal en die Super Kings het die teiken maklik bereik met 15 balle oor. Samson sê hy wou eintlik 100 haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-366-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-644-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….