Nuus 08:00
BULLETIN 28 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verduidelik berigte oor beweerde ontwrigtings tydens die Vryheidsdagvieringe
# Die DA doen ‘n beroep op minister Godongwana om die brandstofheffingverligting vir nog ‘n maand voort te sit
# En die verdagte in die Withuis-skietery word aangekla van poging tot sluipmoord op die president
# Die regering sê berigte dat die Nasionale Vryheidsdag-viering in Bloemfontein ontwrig is toe ‘n persoon na president Cyril Ramaphosa en die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, op die verhoog beweeg het, is misleidend. Die waarnemende regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die berigte is verkeerd en oordryf moontlik die aard van die voorval. Sy sê die program was tydens die voorval al afgehandel en die verrigtinge het na ʼn kulturele segment oorgeskakel:
# Die DA doen ʼn dringende beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die brandstofheffing-verligting nog ʼn maand te verleng. Die regering het in Maart aangekondig hy verlaag die brandstofheffing met drie-rand om die uitwerking van stygende oliepryse weens die konflik in die Midde-Ooste te versag. Die toegewing verval volgende Dinsdag. Mark Burke van die DA sê die party ondersteun ʼn verlenging, maar sal nie toekomstige toenames in belasting of skuld ondersteun om vir hierdie verligting te betaal nie:
# Build One South Africa sê die volgende fase van Suid-Afrika se reis moet gekenmerk word deur die uitbreiding van ekonomiese vryheid en die herstel van waardigheid vir almal. Die leier van BOSA, Mmusi Maimane, sê dit vereis moedige hervormings om die ekonomie te laat groei en te verseker dat geleenthede nie slegs deur jou plek van geboorte bepaal word nie, maar deur jou vermoë en ywer. Maimane sê 57-persent van kinders in Suid-Afrika leef in veelvlakkige armoede, terwyl werkloosheid onder veral die jeug steeds ‘n generasie van hoop en moontlikhede beroof.
# Die verdagte in die skietery by die Withuis-korrespondente-dinee, Cole Tomas Allen, het drie federale aanklagte teen hom. Die 31-jarige Allen het gister in Washington in die hof verskyn. Aanklaers sê hy het ʼn semi-outomatiese wapen, ʼn pompaksie-haelgeweer en drie messe by hom gehad en het alleen opgetree. Die waarnemende Prokureur-generaal, Todd Blanche, sê Allen is aangekla van poging om die president te vermoor, die vervoer van ʼn vuurwapen oor staatsgrense om ʼn misdaad te pleeg, en die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn geweldsmisdaad:
# Tennis: Die tweede gekeurde Duitser, Alexander Zverev, is vir die negende keer deur na die Madrid Ope se laaste 16 nadat hy die Fransman, Terence Atmane, verslaan het. Die Belg, Alexander Blockx, het die wêreld-nommer-vyf, Felix Auger-Aliassime van Kanada geklop terwyl die Rus, Daniil Medvedev, met Nicolai Budkov Kjaer van Noorweë afgereken het. In die vroue-afdeling het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus die Japannees, Naomi Osaka, afgeransel om die kwarteindronde te haal. Die derde gekeurde Amerikaner, Coco Gauff, is deur die Tsjeg, Linda Noskova, verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend–723-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-672-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….