Nuus 08:00
BULLETIN 24 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Masemola se skorsing dui op dieper korrupsie in die polisie
# Minister Creecy sê twee-duisend-miljard-rand is nodig om die spoorwegstelsel te laat herleef
# En die Israel-Libanon skietstilstand word met drie weke verleng
# Die ANC het die voorsorgskorsing van die Nasionale Kommissaris van Polisie, Fannie Masemola, verwelkom. Hy het vandeesweek in die Landdroshof in Pretoria verskyn vir die oortreding van die Wet op Openbare Finansiele Bestuur in verband met die SAPD-gesondheidstender van 360-miljoen-rand wat aan die beweerde lid van ‘n kartel, Vusimuzi “Cat” Matlala, toegeken is. Die woordvoerder van die ANC, Mahlengi Bhengu, het ook die aanstelling van Puleng Dimpane as waarnemende Nasionale Kommissaris van Polisie verwelkom en het die noodsaaklikheid van stabiliteit beklemtoon:
Die EFF darenteen kritiseer Masemola, se skorsing en beskuldig president Cyril Ramaphosa dat hy ‘n kultuur van strafloosheid binne wetstoepassing toelaat. Die EFF sê Masemola se skorsing weerspieël wat hy noem die skandelike hantering van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, in Julie verlede jaar. Die party sê Masemola se skorsing teen volle betaling bevestig dat korrupsie onder ʼn ANC-DA-geleide regering nie gestraf word nie.
# Die minister van Vervoer Barbara Creecy sê die Suid-Afrikaanse ekonomie verloor moontlike inkomste weens sy onvermoë om in die groeiende vraag na die vervoer van uitvoerprodukte te voorsien. Tans word sowat 165-miljoen ton vrag jaarliks per spoor vervoer terwyl die markvraag nader aan 280-miljoen ton is. Creecy sê die land sal oor die volgende 30 jaar sowat twee-duisend-miljard-rand aan openbare en privaat beleggings benodig om die Nasionale Spoormeesterplan in werking te stel wat spoorvervoer as die ruggraat van die land se logistieke en vervoerstelsel sal vestig.
# President Donald Trump van Amerika sê die skietstilstand tussen Israel en Libanon is met drie weke verleng. Dit volg na ʼn onlangse vergadering in die Withuis met die twee lande se ambassadeurs. Sporadiese gevegte tussen Israel se weermag en Iran-ondersteunde Hisbolla het die afgelope week voortgeduur. Hisbolla het vuurpyle op die noorde van Israel afgevuur en die land beskuldig dat hy die vorige skietstilstand verbreek het. Trump sê daar is ʼn goeie kans op vrede tussen Israel en Libanon:
# Krieket: Die Chennai Super Kings is vyfde op die Indiese Premierliga se punteleer ná ʼn oortuigende oorwinning van 103 lopies oor die Mumbai Indians. Dis hul grootste punteverskil ooit in die kompetisie. Sanju Samson het ʼn onoorwonne 101 van 54 balle behaal en bygedra tot die Super Kings se telling van 207 vir ses. Daarna het Akeal Hosein vier paaltjies platgetrek en Mumbai was na 19 boulbeurte op 104 almal uit. Samson sê dis belangrik om toestande te respekteer en die wedstryd-plan daarvolgens aan te pas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-594-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-673-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….