Nuus 08:00
BULLETIN 23 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se parlementêre studiegroep oor die Polisie vra vir Ramaphosa om teen Masemola op te tree
# Iran sê hy sal nie die Straat van Hormoes heropen solank die Amerikaanse vlootversperring voortduur nie
# En krieket: Die Protea-vroue beklink die T20-reeks teen Indië
# Die ANC-studiegroep oor Polisie vra president Cyril Ramaphosa om met die nodige haas op te tree teen die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, en bestendigheid in die polisiediens te herstel. Masemola word aangekla van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit hou verband met ‘n tender van 360-miljoen-rand wat onregmatig aan Medicare24 toegeken is. Die maatskappy behoort aan Vusimuzi ‘Cat’ Matlala. Die ANC se parlementêre groep sê ʼn nasionale polisiekommissaris wat vervolging in die gesig staar, skep ʼn bevel- en beheerkrisis. Hy sê die polisiediens se geloofwaardigheid het aansienlike skade gely.
# Die Presidensie sê volgens die vierde kwartaal se verslag is aansienlike vordering gemaak met strukturele hervormings onder Operasie Vulindlela. Die jongste inligting toon 67-persent van die vordering is op koers, sewe-persent is afgehandel, ses-persent het groot probleme en 20-persent word vertraag. Operasie Vulindela fokus daarop om langdurige struikelblokke wat Suid-Afrika se ekonomie terughou, te verwyder. Die hoof van die Presidensie se projekbestuur-kantoor, Rudi Dicks, sê hulle het gedurende die kwartaal belangrike mylpale bereik, onder meer die stigting van Eskom se herstruktureringstaakspan:
# Die DA in Tshwane vra dat die EFF aanspreeklik gehou moet word oor bewerings van tendermanipulering in die metro. Dit volg na bewerings wat by die Madlanga-kommissie gemaak is en WhatsApp-boodskappe wat dui op moontlike politieke inmenging in ‘n sekuriteitstender waarby EFF-leier Julius Malema, betrokke was. Cilliers Brink van die DA sê die EFF kan nie die bewerings ignoreer terwyl hulle kommer oor ander bestuurskwessies in die stad uitspreek nie:
# Iran sê dis onmoontlik om die Straat van Hormoes te heropen terwyl die Amerikaanse vlootversperring voortgaan aangesien dit ‘n blatante skending van die skietstilstandooreenkoms is. Iran se Rewolusionêre Wag het gister twee vaartuie in die Straat geannekseer, wat gewoonlik deurgang bied aan een-vyfde van die wêreld se olie en natuurlike vloeibare gasvoorrade. Die Withuis se mediawoordvoerder, Karoline Leavitt, sê Amerika beskou nie Iran se anneksasie van die twee skepe in die Straat as ‘n oortreding van die skietstilstand nie:
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt het die 17de honderdtal van haar loopbaan behaal en die Proteas tot ʼn negepaaltjie-oorwinning teen Indië gelei in die derde T20 op die Wanderers. Indië se kaptein, Harmanpreet Kaur, het 66 gemoker en die besoekers het 192 vir vier op die telbord geplaas. Daarna het Wolvaardt 115 van net 53 balle behaal en ʼn aanvangsvennootskap van 183 met Sune Luus gedeel. Suid-Afrika het die teiken bereik met 21 balle oor. Die Proteas loop met 3-0 voor en wen dus die reeks van vyf wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-693-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-705-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….