Nuus 08:00
BULLETIN 21 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê daar mag dalk ‘n kort verlenging van die verligting van brandstofheffings wees
# Die MK-party wil hê die plaaslikeregeringsverkiesing moet uitgestel word
# En Laureus-toekennings: Alcaraz en Sabalenka word aangewys as Laureus-atlete van 2025
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die regering mag die tydelike brandstofheffingverligting vir tot twee maande verleng, maar kan nie langtermynondersteuning bekostig nie weens begrotingsbeperkings. Volgens News24 het Godongwana gesê die huidige verlaging van drie-rand per liter in die brandstofheffing, wat ongeveer ses-miljard-rand per maand kos, sal op 5 Mei eindig. Hy het ook belastingverhogings uitgesluit, aangesien enige ekstra besteding sal lei tot besnoeiings aan sleuteldienste soos gesondheid, onderwys, polisiëring en infrastruktuur.
# Die MK-party vra dat die komende plaaslikeregeringsverkiesing uitgestel word hangende sy saak oor stemknoeiery by die OVK. Die party beweer wydverspreide knoeiery met stemme het in die algemene verkiesing in 2024 voorgekom. Hy glo hy moes na regte die verkiesing wen. Die party sê tegniese foute het veroorsaak dat sy uitslae vir twee ure van die kitsoorsig van landwye uitslae verdwyn het en dat dit opsetlik gedoen is om die party se stemme te steel. Die woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela, sê die saak moet uitgeklaar word voordat die verkiesing kan plaasvind:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, beskryf Suid-Afrika se deelname en invloed by die 152ste Interparlementêre Unievergadering in Turkye as ‘n groot sukses om die land se internasionale prioriteite te bevorder. Die land se afvaardiging het ʼn nood-artikel oor die bou van vrede in die Midde-Ooste ondersteun en ondersteuning gekry vir belangrike veranderinge aan konsepresolusies. Didiza sê volhoubare vrede vereis inklusiewe betrokkenheid en kollektiewe aksie, veral deur die betekenisvolle deelname van jongmense:
# President Donald Trump sê Amerika sal Iranse hawens blokkeer tot Teheran instem tot ʼn ooreenkoms om die oorlog te beëindig. Sedert die blokkade ingestel is, het Amerikaanse magte 27 skepe beveel om terug te draai of na ʼn Iranse hawe te vaar. Hulle het ook ʼn vragskip met ʼn Iranse vlag onderskep en daarop beslag gelê. Iran het sy eie blokkade van die belangrike Straat van Hormoes. Trump sê in ʼn inskrywing op Truth Social ʼn ooreenkoms met Iran sal binnekort bereik word.
# Laureus-toekennings: Die tennis-sterre Carlos Alcaraz en Aryna Sabalenka is by die Laureus-toekennings in Madrid onderskeidelik as Sportman en Sportvrou van die Jaar gekroon. Alcaraz het agt ATP Toer-titels gewen, insluitend twee Grand Slams in 2025. Sabalenka spog met ʼn tweede Amerikaanse Ope-kroon en vier WTA-titels. Rory McIlroy het die Herlewing van die Jaar-toekenning gekry en Formule Een-renjaer Lando Norris is aangewys as Wêreld-deurbreker van die Jaar. Barcelona en Spanje se Lamine Yamal is die Jong Sportman van die Jaar en Paris St-Germain is die Wêreld-span van die Jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend–603-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-795-dollar-08-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….